Skrywer van artikel: Louis Awerbuck (Sielkundige en skrywer)
GEPUBLISEER IN VRYE WEEKBLAD 22 JULIE 2022
JY voel deurgaans onrustig, asof daar iets groots fout is. Asof iets slegs gaan gebeur, maar jy weet nie wat nie. ’n Permanente hol kol op jou maag, asook ’n kenmerkende gejaagde gevoel, het deel van jou lewenspatroon geword.
Jy sukkel om te ontspan, jou gedagtes maal, en jou konsentrasie kom en gaan. As jy oplet, kom jy agter dat jy hoog en vlak vanuit jou bors asemhaal, nie diep onder uit jou maag soos wat mens eintlik moet nie. Dis nie ongewoon vir jou om stywe spiere en skouers te hê asook kopsere en rugpyne nie. Veral sukkel jy om in die oomblik te wees. Dalk het jy al meditasie probeer, maar dit nie reggekry nie. Miskien wend jy jou tot alkohol of ander vorms van ontsnapping.
Welkom by die klub.
Jy is een van die miljoene mense, waarskynlik nader aan ’n biljoen of twee, wat op een of ander manier gebuk gaan onder die Siekte Van Ons Tyd. Bekommernis, antisipasie, angstigheid, stres, om te worry. Hiérdie, en vele ander beskrywings van spanning en hipertensie, het ’n gelaaide betekenis gekry en dui nie net meer gewone gemoedstoestande aan nie. Die woord “angs”, wat oorspronklik ’n emosie (net soos byvoorbeeld “blydskap”) beskryf, word al hoe meer geassosieer met ’n toestand wat jou kan verlam of jou lewensgehalte kan inperk. Dit het iets geword waaraan ’n mens kan ly, nie net ’n emosie wat jy ervaar nie.
Gesonde vrees en angsversteuring
Angs as ’n toestand is nie verwant aan realistiese vrees nie. Intense angs binne verstaanbare omstandighede is normaal. Indien jy jouself nie wil bevuil van bangheid as jy per ongeluk ’n wilde leeu in die veld teëkom nie, is daar fout met jou.
“Gesonde” stres of angstigheid dien as motivering byvoorbeeld om jou harder voor te berei vir die eksamen of om gefokus te wees tydens ’n vergadering of wedloop. Indien jy egter so gereeld oorspanne is dat jy nie meer toepaslik kan funksioneer nie, veral in jou werk of jou verhoudings, ly jy aan ’n diagnoseerbare siekte en word dit ’n angsversteuring genoem. Dan is jy deel van ongeveer 6-10% van die samelewing. Afhangende van watter vorm jou angstige toestand gekies het om sy nare gesig mee te vertoon, kan jou toestand verder gedefinieer en beskryf word.
Die vorm van angsversteuring wat die meeste voorkom staan bekend as algemene angsversteuring, wat veroorsaak dat mens chronies gespanne en onrustig voel sonder dat jou stres aan iets spesifieks verbind is. Sou jou gedagtes op dieselfde tema vashaak, en/of sou jy sekere gedrag oor en oor herhaal sonder dat dit logies sin maak (byvoorbeeld om jou hande oor en oor te was of gedagtes vir ure te herhaal) praat ons van obsessief-kompulsiewe versteuring. Indien jy gereeld angsaanvalle kry (intense hartklop, sweet, kortasem, en benoud vir ongeveer 10 minute), word jou toestand ’n paniekversteuring genoem.
In die geval waar fisieke benoudheid gereeld gepaard gaan met herinneringe aan iets spesifieks wat in die verlede gebeur het, word die term posttraumatiese stresversteuring gebruik, en indien jy voel of die horries jou beetpak weens iets spesifieks (byvoorbeeld spinnekoppe of sosiale situasies), sukkel jy met ’n fobie of ’n sosiale angsversteuring.
- Misdaad, Eskom, die regering …
Hou in gedagte dat ’n angsverwante toestand net by jou gediagnoseer sal word as jy baie erg daardeur geraak word. Jy moet byvoorbeeld nie sommer kan werk nie en dit moet uitsonderlik sleg met jou gaan as gevolg van die simptome van jou toestand.
Al is minder as 10% van mense dus volledig diagnoseerbaar met een of ander vorm van angsversteuring, word aansienlik meer mense deur die simptome van hierdie moderne bedreiging geraak. Konserwatiewe, universele navorsing raam dat minstens 20% van alle mense op een of ander manier erg geraak word deur simptome van angstigheid, veral algemene (chroniese, vae, ongedefinieerde) angstigheid. In sekere lande en bevolkingsgroepe is dit veel meer.
In Suid-Afrika sien elke algemene praktisyn, sielkundige of psigiater daagliks mense met angsversteurings in hulle spreekkamers. ’n Mens hoef nie te ver te soek om eksterne faktore te vind wat ’n verswarende impak op ’n reeds brose nasie het nie. Covid-19. Misdaad. Werkloosheid. Eskom. Die regering. Dit is logies dat die meeste mense in Suid-Afrika beduidend meer druk op hul reeds dungeskaafde nerwe voel as mense in baie ander lande.
- Bose embrio
Daar is dus veral plaaslik, maar ook internasionaal, ’n mediese krisis aan die uitbroei met die angsmonster as die bose embrio. In die verre toekoms sal daar na die huidige tydperk in die mens se mediese geskiedenis teruggekyk word as die era waarin angsverwante siektes sy wurggreep op die mensdom gevestig het.
Die probleem is veel wyer as net sielkundig van aard. Chroniese spanning gaan met hipertensie gepaard, wat mediese gevolge inhou en algemene praktisyns, sielkundiges, psigiaters en sekere spesialiste daagliks laat bontstaan. Angsverwante simptome word direk geassosieer met hartprobleme, bloeddruk, en probleme met asemhaling en spysvertering. Die simptome van chroniese spanning verhoog die risiko van infeksie. Adrenalien en kortisol wat konstant afgeskei word, beïnvloed die regulering van bloedsuiker en kan diabetes veroorsaak.
Agter die meeste vorms van depressie sit angs as oorsprong of as hardnekkige ondergrawer van die gemoed. Dit is algemeen om na vele vorms van depressie te kyk as die tam eindproduk van afremming deur chroniese angs. As ’n metafoor: Indien jou enjin te hard gerev word deur chroniese spanning en onderliggende angstigheid, breek die onderdele uiteindelik en word die battery pap. Al neem dit dekades.
- In die lyf, nie die kop nie
Dit kom op die volgende neer: Angs sit in die lyf, nie in die kop nie. Hiermee wil mense oor die algemeen nie vir lief neem nie, en skop individue soms heftig teen behandeling wat angswerende medikasie behels.
Al is ’n mens se denke en fisiologiese funksionering presies dieselfde ding, word dit meestal nie subjektief só ervaar nie. Mense beleef dus oor die algemeen dat hulle “in hul liggame woon” en dat gedagteprosesse “apart” van jou vleeslike lyf gebeur. Ek moet net my kop regkry, word daar baie gesê. Dalk net vir ’n naweek wegkom en perspektief kry, word daar gehoop.
Ongelukkig is dit nie prakties moontlik om die kern-ervaring van angs met wilskrag onder beheer te kry nie weens hoe ’n mens fisiologies saamgestel is. Die meeste mense weet van of verstaan die veg-of-vlug-konsep, maar sukkel om te aanvaar dat hulle subjektiewe ervaring van bekommernis en stres op dieselfde oermanier in stand gehou word. Dit kan mos nie so eenvoudig wees nie, word daar gereeld teëgestribbel.
Dit is egter al wat enige angsverwante toestand in wese is: ’n veg-of-vlug-reaksie wat oorspronklik ontstaan het om jou te beskerm, maar nou ’n permanente gewoonte gevorm het. Hierin lê die sleutel tot die verstaan en hantering van enige angstoestand – dat jou liggaam “oorgeneem het” om jou te beskerm en eenvoudig net 24 uur per dag daarmee volhou, of dit nodig is of nie.
- Bedank die grotmense (of nie)
Die oorsprong van hierdie beskermingsproses in ons antieke voorouers is alom bekend: wanneer Meneer Grotman onverwags deur ’n roofdier gekonfronteer is, het hy onmiddellik adrenalien en kortisol afgeskei wat onder meer sy pupille wyer gesper en soveel suurstof moontlik na sy spiere vervoer het.
Hierdie reaksie het outomaties gebeur sodat hy dadelik kon reageer en ’n toon klap na sy grot. As dit aan sy interpretasievermoëns oorgelaat was om ’n plan te beraam, sou hy nog korter geleef het. En sou ek en jy dalk nie vandag bestaan het nie.
Grotman kon nie snags in sy grot sit en toekomstige gevare antisipeer nie. Hy was nie in staat om vooruit te worry nie, want sy brein was te klein en hy was gevolglik gewoon te dom. Hy het ongeveer ’n uur nadat die gevaar verby was tot bedaring gekom, en kon die volgende oggend weer rustig by sy grot uitstrompel. Sy liggaam het hom dus die meeste van die tyd “uitgelos”.
Die moderne mens is onderhewig aan dieselfde fisiologiese regulering om oorlewing en beskerming te verseker. Dít wat egter so goed vir Meneer Grotman gewerk het, werk nie meer vir die moderne mens met al die grysstof om te kan interpreteer, vooruit te dink en te antisipeer nie. Dit is nou nie net meer die onmiddellike realiteit wat ons in ’n veg-of-vlug-reaksie dwing nie, maar ook dit wat nog kán gebeur.
Omdat daar so baie is wat kan skeefloop, en omdat ons dit goed besef, bedink en verwag en aktiveer ons veg-of-vlug-reaksies baie meer intens en kompleks as wat die antieke grotbewoners in hulle destydse hier-en-nou in onmiddellike gevare gedoen het.
Pleks van net benoud te wees wanneer dit nodig is, is die moderne mens toenemend geneig om hulle meer, langer en dieper te bekommer oor dít wat in die toekoms kan gebeur. Angsverwante toestande is dus besig om die permanente fisiologiese gevolg van die kollektiewe “wat as?”-vraagstuk te word, asook van die groeiende ontevredenheid met dit wat is, en die gepaardgaande bemoeidheid met dit wat kan wees.
In wese het die mens dus ’n wêreld geskep wat hom ál meer benoud maak, maar nog nie die meganismes ontwikkel wat die groeiende benoudheid doeltreffend kan bestuur nie.
Maar miskien lê die probleem nie in die gebrek aan prosesse om die angs wat die wêreld bring te bestuur nie. Miskien is dit hoe die wêreld bestuur word wat so baie angs onder so baie mense veroorsaak.
♦ VWB ♦