“After climbing a great hill, one only finds that there are many more hills to climb.”
Hoërskool Outeniqua Afsluitingsfunksie 2017-Matrikulante
Geagte Mnr Voster, opvoeders, leerlinge en ouers:
Ek is gevra, as ’n oudleerling wat 40 jaar gelede, in 1977, hier matriek geskryf het en as ouer van twee matrikulante, twee jaar terug en vanjaar, om twee aangename, dog moeilike, take vandag hier aan te spreek.
Namens die ouers van die 2017-matriekklas wil ek die personeel van Hoërskool Outeniqua bedank. Dit sluit in al die opvoeders, kantoorpersoneel, terrein- en instandhoudingspersoneel en sekuriteit. Dankie vir julle ywer en toewyding om die beste uit elke leerder na vore te probeer bring. Ons het waardering vir dit wat julle op ’n volhoubare manier voortgaan om te doen, jaar na jaar. Baie dankie.
Daar is ’n advertensie op RSG waarmee ek kan identifiseer. Rofweg, sê dit iets soos dat onderwys nie is soos om ’n emmer vol te maak nie, maar eerder soos om ’n vuur aan die brand te steek. Ek glo dat baie van u ook vanuit daardie filosofie ons leerders benader het.
Ek besef dat onderwys wêreldwyd baie verskuiwings ondergaan. Die behoefte aan skole en soorgelyke instellings om primêr gerig te wees op plekkke waar kennis oorgedra word, word al hoe kleiner. Kennis is nie meer beperk tot net ’n instelling of ’n boek nie. Inligting is orals beskikbaar. Youtube is eintlik so ’n effektiewe manier om iets nuuts te leer.
Daar is wel ’n groot behoefte aan instellings wat ons, jonk en oud, kan begelei op die pad van groei: fisiek, emosioneel en spiritueel. Volwassenheid, as mens, is ’n proses van groei wat nie ophou nie. Ons het instellings nodig, soos skole, om ons meer geronde mense te maak. Dit maak u uitdagings as opvoeders uiteraard baie moeiliker, maar u rol in die samelewing ook belangriker.
Baie dankie aan die opvoeders van hierdie skool wat daagliks daarmee besig is om te slyp aan die menswees van die jonger generasies en dikwels ook aan ons as hulle ouers.
Ek is gevra om ook iets aan die Matriekklas te sê op hierdie laaste dag van skool voordat julle, soos die tradisie dit vereis, gaan om die verfrissende water van Victoriabaai aan te durf.
Ek is diep bewus van hoe vinnig sekere aspekte van die samelewing aan die verander is. Tog is daar ander aspekte van menswees wat in baie opsigte dieselfde gebly het oor die afgelope 12 000 jaar sedert ons onsself, as Homo sapiens, begin onderskei het van ander lewende spesies. Ek deel met julle van die dinge waaraan ek myself voortdurend moet herinner. Ek het vyf punte. Daar word altyd gesê dat drie punte die beste onthou word. Maar ek weet dat julle breine goed ingeoefen is en dat julle konsentrasie uitstekend is.
- 1. Dink gedurig daaraan oor wat werklik vir jou waarde het.
Alles het nie dieselfde waarde nie. Ongelukkig het nie alles wat lyk of dit waarde het, werklik waarde nie. Soms kan ons te veel tyd, energie, emosies, en van onsself, gee vir dinge wat nie werklik soveel waarde het as wat dit op die oog af gelyk het nie. Die gevaar is dat ons in die proses natuurlik dit wat werklik waarde het, afskeep.
In my eie ervaring is die ding wat die meeste druk op alle mense plaas en ons die meeste blind maak, maar gewoon geld – goed en besittings. Veral as dit die maatstaf word van wat werklik waarde het.
- 2. Daar word gesê dat daar ’n verband tussen nuuskierigheid en leerbaarheid.
Leerbaarheid is ’n ingesteldheid om te kan leer van dit wat rondom jou, en met jouself en ander, gebeur. Dit help ons om ook uit ons foute iets te leer. Bly nuuskierig oor die lewe en behou ’n gees van leerbaarheid.
- 3. Leef met die verwagting dat daar eintlik baie meer goeie mense, met ’n hart vir ander en met sagte oë is,
as uitbuiters en geweldenaars. Wees self iemand met ’n hart vir ander en met sagte oë.
- 4. Een van die moeilike dinge in die lewe is om balans te vind
tussen wanneer om te konformeer (saam te gaan met die stroom) en wanneer om in opstand te kom (teen die stroom te swem). Geregtigheid kan soms net plaasvind indien iemand in opstand kom teen ongeregtigheid. ’n Gesonde samelewing het beide hierdie kante – konformasie en protes – in balans. Die uitdaging is om nie altyd maar net saam te stem nie, maar om ook te weet wanneer om sisteme wel te ondersteun.
Ek wens julle wysheid toe met hierdie uitdaging.
- 5. Hierdie eksamen mag miskien vir julle na ’n groterige berg lyk. Maar daar is ook ’n ander manier om daarna te kyk – as ’n uitdaging.
Dit is juis deur ’n groot berg aan te pak dat ons onsself eintlik voorberei om nog hoër berge uit te klim.
My wense vir julle is dat hierdie berg julle nie sal oorweldig nie, en dat julle ná hierdie berg sal uitsien na nog vele ander bergtoppe, sommige laer, sommig baie hoër. Oud-president Mandela het dan ook oor sy eie lewe gesê:
“After climbing a great hill, one only finds that there are many more hills to climb.”
Sterkte en dankie.
Frederik Nel (11/10/2017)