Die regverdige sal uit die geloof lewe

“Die regverdige sal uit die geloof lewe”. Oor die kritiese funksie van die leer van die regverdiging van die goddelose

Prof Flip Theron (2006)

Die tollenaar se nederigheid is net so min verdienstelik as wat die hoogmoedigheid van die Fariseër dit is. Dit kan nooit die basis vir sy regverdiging vorm nie. Die nederigheid van die tollenaar is iets anders as ‘n morele kwaliteit. (W D Jonker in: Vreemde Geregtigheid)

 Inleiding

Die Ring van Kaapstad verdien ons dank vir die besluit om so kort na sy heengaan ‘n  Willie Jonker-gedenklesing in te stel. Persoonlik dink ek dit kom geen dag te vroeg nie. Om te beweer dat die Reformatories-gereformeerde tradisie wat vir Willie Jonker kosbaar was, in Suid-Afrika deesdae onder druk verkeer, is geen oordrywing nie. Dat dit hom die laaste jare groot kommer besorg het, is taamlik algemeen bekend. Die instelling van hierdie gedenklesing verstaan ek só dat die Ring van Kaapstad hierdie kommer deel. Wie weet, dalk mag dit, al is dit miskien ‘n wolkie so groot soos ‘n man se hand, die belofte inhou van nuwe lewe na ‘n langdurige droogte. Dat dit in die moeder-ring van die NGK plaasvind, wil ek graag glo het simboliese betekenis.

Soos dit pas in ‘n lesing, sal ek poog om so saaklik moontlik te wees. Vergun my tog net om vooraf ‘n kort gediggie aan u voor te lees. Dit is onlangs deur ‘n gemeenskaplike vriend en deskundige op die gebied van die dogma-geskiedenis, prof Chris Botha, vir my gestuur. Ek haal dit met sy toestemming aan:

 

Prof WD Jonker

Jy’s wêreldwyd as ‘n begaafde mens bekend

Jou reuse intellek, jou need’righeid en trou.

Jy was profeet, gesogte prediker, ‘n skrywer en dosent.

Met hoeveel deernis sal jou oudstudente jou onthou.

Hoe wreed dat die gevreesde Altzheimer jou rekenaar

moes binnedring om al jou gisters resloos uit te wis.
Jy het weer embrio geword wat opkrul in die uterus/
Sodat jou sterwe jou toe vir die ewigheid kon baar.

Die ekumeniese karakter van die regverdigingsleer

Willie Jonker was oortuig dat die regverdigingsleer nie veronderstel is om die liefhebbery van ‘n spesifieke Christelike tradisie te wees nie, want dit is ‘n teologiese waarheid wat die wêreldkerk nie durf  verwaarloos nie. Dit tref so dat die eerste lesing van hom waarby ek self nog in my studente-jare teenwoordig was, gelewer is voor ‘n Rooms-Katolieke gehoor oor die tema, Grace and Justification[1]. In een van die preekbundeltjies wat ons twee destyds saam gepubliseer het, Vreemde Geregtigheid. Oor die regverdiging uit genade alleen[2], was Willie verantwoordelik vir die eerste preek met die titel: Regverdiging van die goddelose. Daarin verwys hy na die “aanstootlikheid” van hierdie leer vir die vrome mens, die godsdienstige mens, die moreel-hoogstaande mens. Terselfdertyd bestempel hy dit as die “hart” van die evangelie. Dit impliseer dat hierdie leer van kardinale belang is vir die kerk wêreldwyd.

Die ekumeniese aktualiteit kom o a na vore in die talle diskussies wat tussen verskillende tradisies die afgelope dekades hieroor gegaan het.[3] Dit was die punt waaroor die paaie tussen Rome en Reformasie in 1547 tydens die Konsilie van Trente uiteengegaan het. Dat daar sedertdien toenadering op hierdie punt plaasgevind het, vervul mens met dankbaarheid. Terselfdertyd is dit ‘n simptoom van hedendaagse oppervlakkigheid om te meen dat eenstemmigheid bereik is. Die Rooms-Katolieke en Lutherse Joint Declaration on the Doctrine of Justification[4], het skerp reaksie ontketen. Niemand minder nie as Eberhard Jüngel reageer in ‘n vlymskerp analise in ‘n artikel met die titel, Um Gottes wil – Klarheit![5] Ottfried Hofius, die bekende Nuwe Testamentikus van Tübingen, het vroeër vanjaar in ‘n persoonlike gesprek sy misnoë met die verklaring teenoor my betuig.

Die gedagte dat sy naam aan ‘n spesifieke kerk gekoppel mag word, het Luther met weersin vervul. “Wat is Luther?”, wil hy weet. “Dit is tog nie my leer nie”,  gaan hy voort. “Ek is ook vir niemand gekruisig nie. Hoe kom dit dan, ek ‘n arme stinkende mietesak, dat mense die kinders van Christus met my heillose naam noem? Nie so nie, liewe vriend…”[6] En wat Calvyn betref, sover ek weet is Suid-Afrika die enigste plek in die wye wêreld waar ‘n Calvyn-kerk bestaan. Hy sou dankbaar wees dat dit nie al te groot is nie.

Die kritiese karakter  van die regverdigingsleer

Die woord krities in ons titel hou verband met die Griekse woord krisis wat oordeel, skeiding, beteken. Om te oordeel en te beoordeel beteken om skeiding te maak en te onderskei tussen reg en onreg, waarheid en leuen, goed en sleg, skuldig en onskuldig, lewe en dood. God skep selfs deur skeiding te maak. In Romeine 4: 17 binne die konteks van ‘n diskussie oor die regverdiging deur die geloof alleen, verwys Paulus na die skeppingsverhaal wanneer hy praat van Abraham wat geglo het in God wat dooies lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, tot bestaan roep deur sy woord. God skep deur skeiding te maak tussen wat is en nie is nie; tussen lig en duisternis, dreigende waters en droeë grond. So skep Hy orde uit die wanorde, woestheid en leegheid van die oerchaos waaruit die geordende skepping te voorskyn kom. Dit gebeur ook in die herskepping wanneer God in Christus se kruis en opstanding skeiding maak tussen dood en lewe, geregtigheid en goddeloosheid, skape en bokke, koring en kaf, die chaos van die ou skepping wat verbygaan, en die vrede van die nuwe skepping wat bly. Dít, in ‘n neutedop, is die leer van die regverdiging van die goddelose.

Vir die Reformatore is die regverdigingsleer van kritiese betekenis ook in die sin dat dit ‘n vurk in die pad is waar die weë skei. Dit is die articulus stantis et cadentis ecclesiae, die geloofs-artikel waarmee die kerk staan of val.[7] Daarom vervul dit ‘n kriteriologiese funksie, d w s dit dien as kriterium vir die totale teologie. Weliswaar glo die Reformasie in geen dogma nie, ook nie in die dogma van die regverdigingsleer nie, want dit sou afgodery beteken. Volgens die bekende standpunt van Luther kan die hele leer van die kerk in die eerste gebod saamgevat word. Ons glo net in God. Dit is presies wat die regverdigingsleer wil beklemtoon. Maar weet ons wat die woord “God” beteken? Weet ons wat die woord “mens” beteken? Weet ons wat skepping beteken? Die regverdigingsleer dien as kriterium vir die antwoorde op hierdie vrae. Dit wys daarop dat ons as sondaars vervreemd is van God en daarom van onsself en van die hele werklikheid. In ons kennismaking met ons Skepper in die Gekruisigde deur die Skepper-Gees, gaan die chaotiese ou skepping te gronde en kom uit die chaos ‘n nuwe tot stand. 2 Korintiërs 5: 17: As iemand in Christus is, is hy ‘n kaine ktisis (‘n nuwe skepping). Die ou dinge het verbygegaan. Kyk, dit het alles nuut geword.

Dat dit in die kerk om God gaan, blyk uit die feit dat in die Twaalf Artikels, die Credo van die kerk, weekliks wêreldwyd net ons geloof in God die Vader, Seun en Heilige Gees bely word. Die res is niks meer nie as uitbreiding en verduideliking. Daarom word dikwels na die Twaalf Artikels verwys as die Drie Artikels. Die regverdigingsleer kom daarin nie eers voor nie.[8] Tydens die Reformasie staan hierdie leer sentraal en dien om te verduidelik wat met Vader, Seun en Gees bedoel word. Nou blyk dat die Triniteit troos beteken. In die proses vervul dit sy funksie as kritiese kriterium vir die Godsleer, en daarom vir die skeppingsleer, mensleer, Christologie, sakramente, die eenheid van die kerk, sosiale etiek, politieke etiek, die erediens, liturgie, kerkmusiek, ens ens. Weliswaar is die leer van die kerk geen geslote sisteem waar jy die een waarheid logies uit die ander kan aflei nie, maar dit is ook geen chaotiese wanorde sonder samehang waar elkeen kan kwytraak wat hy of sy wil nie. Per slot van sake konsentreer alle waarheid in die Gekruisigde wat gesê het: Ek is die Weg die Waarheid en (daarom) die Lewe. Die regverdigingsleer onderstreep dit in rooi.

Willie Jonker sluit sy lesing voor die Rooms-Katolieke gehoor af met die woorde: This is the point that still stands between the Reformed Churches and all those who try to find some place for the merit of man or at least for a meritorius co-operation between man and God in the process of salvation. On this point we are not prepared to give way, because I believe that here we stand on the firm basis of the Holy Scriptures that are infallible and the only rule for our faith. Toleransie[9], in die sin van onverskillige neutraliteit, is hier geen opsie nie. Wie dit van ons eis vra dat ons geestelike selfmoord moet pleeg en dit is (soos Van Ruler iewers opmerk) die toppunt van intoleransie.

In God se oordeel kom die mens twee keer voor nl as goddeloos in onsself, en as regverdig in Christus. Dít is soos God ons sien en beoordeel. Beide is daarom geloofsuitsprake en moet nie as morele kwaliteite verstaan word nie. Gods oordeel is onuitstaanbaar aanstootlik vir die Fariseër, maar onuitspreeklik troosryk vir die tollenaar. Daarom waarsku Willie in sy stelling wat ek as motto gebruik, dat ons nie die nederigheid van die tollenaar as hoogstaande moraliteit moet verstaan wat hom vir God aanneemlik sou maak nie. Dit sou daarop neerkom dat die Fariseër maar net nie fatsoenlik genoeg was nie en deur die tollenaar as morele prageksemplaar verre oortref word. Maar so ‘n siening kom juis op die kritieke punt neer op ‘n fatale misverstand.

Ook ons goddeloosheid is geen morele kategorie nie. Nóg die fatsoenlike Fariseër van die gelykenis, nóg die voormalige onberispelike Fariseer en latere apostel Paulus, kan  jy in morele sin as goddeloos bestempel – inteendeel. Die goddeloosheid waarvan sprake is in die regverdigingsleer moet letterlik verstaan word as God-loosheid. As voltrekking van Gods oordeel oor ons, beteken dit terselfdertyd God-verlatenheid. In hierdie Godverlatenheid het die Seun van God wat sonde vir ons gemaak is, ingedaal, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom (2 Korintiërs 5: 21).

Wie is die regverdige wat uit die geloof sal lewe?

In Willie Jonker se lesing uit die laat sestigerjare doen hy eintlik niks meer nie as om eksegese te doen van enkele kernbegrippe uit Romeine 3: 21-28. In die res van hierdie lesing gaan ek veral fokus op Galasiërs 3: 11, 22-29.

Hoewel Paulus net by twee geleenthede (Romeine 1: 17; Galasiërs 3: 11) Habakuk 2: 4, die regverdige sal uit die geloof lewe, aanhaal, is hierdie woorde vir hom van wesenlike betekenis. “Uit geloof”, “uit geloof”, “uit geloof” (ek pisteos), klink soos ‘n refrein deur hierdie twee briewe en is telkens ‘n sinspeling op Habakuk 2: 4. Alles wat nie uit geloof is nie, is sonde, hoor ons in Romeine 14: 23. Dit geld selfs eet en drink. Nou, wie is hierdie regverdige wat só uit die geloof sal lewe?

In navolging van Habakuk praat Paulus, in die enkelvoud, van regverdige. Daarom moet ons versigtig wees om nie so dadelik aan gelowiges in die meervoud te dink nie. Binne die konteks van hierdie aanhaling in Galasiërs 3: 11, is die enkelvoud vir Paulus juis uiters belangrik. In vers 16 verwys hy na die beloftes wat God aan Abraham en aan sy nakomeling (enkelvoud) gegee het. Indien iemand dink hy bedoel Abraham se nakomelinge (meervoud), help Paulus hom onmiddellik reg. Ek haal aan: Daar staan nie ‘aan nakomelinge’, meer as een nie, maar: ‘aan jou nakomeling’, net een, en hierdie nakomeling is Christus. Ons het rede om te vermoed dat Paulus met die uitspraak dat die regverdige uit die geloof sal lewe, in die eerste plek net één regverdige, die enigste, ware regverdige, in gedagte het.

Die vermoede word versterk wanneer jy in gedagte hou dat in hierdie tyd sowel die Jodedom as die vroeë Christendom Habakuk 2: 4 verstaan het as ‘n Messiaanse profesie. In hierdie verband het die Griekse vertaling van die Ou Testament (LXX) ‘n belangrike rol gespeel. Volgens sommige manuskripte lui Habakuk 2: 4, soos dit ook aangehaal word in Hebreërs 10: 38: My regverdige, (God se regverdige) sal uit die geloof lewe.

In die Nuwe Testament word Christus meermale, die Regverdige genoem. 1 Petrus 3: 18 (1953-vertaling) byvoorbeeld verklaar met ‘n sinspeling op Jesaja 53: 11: Want Christus het eenmaal vir die sondes gely, Hy die regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring. As die eintlike regverdige is Christus ook die eintlike, ja enigste ware gelowige wat in afhanklikheid van sy Vader lewe. Christus se geloof dui op die Trinitariese band tussen Vader en Seun deur die Heilige Gees wat selfs vloekhout en dood nie kon breek nie.

Christus se geloof

In die debat rondom die sogenaamde Reformatoriese solismes wat niks anders is nie as die regverdigingsleer waarin die kritiese karakter sterk na vore tree, naamlik, sola Scriptura, sola gratia, sola fide, solus Christus, soli Deo gloria, word dikwels nie verstaan nie dat in al hierdie sola’s dit om presies dieselfde saak gaan. Dit het tot gevolg dat die eenheid van die sola gratia en die sola fide, en beide se eenheid met die solus Christus, verbreek word. Geloof word dan maklik misverstaan as die enigste menslike morele kwaliteit wat kwalifiseer as voorwaarde vir die heil. Die eenheid met die sola gratia en die solus Christus word laat vaar en geloof, verstaan met of sonder die medewerking van die Heilige Gees, misvorm tot menslike aanddeel in die verlossing. Die geloof alleen stry dan teen die ander solismes, want jy kan nie twee of drie maal sola sê sonder om jouself te weerspreek nie, tensy die verskillende sola’s dieselfde sê.

Teen hierdie misverstand tov geloof waarsku Jonker uitdruklik in die betrokke lesing. Een van die vyf punte waaraan hy aandag gee, is die begrip faith. Ek haal aan:[10]

It (faith, PFT) has no value in itself. Faith is no achievement giving a man any ground for boasting. It is no good work accomplished by man, with or without the assistance of grace. It is not the correct inner disposition of man after which he should strive, in order to be acceptable to God. It is exactly the opposite of all these possibilities… It is remarkable that Paul does not say that God justifies the believers, for in that case it would have been possible to conclude that it is man’s faith that forms the ground of his justification. He  says that God justifies the ungodly (Romeine 5: 4 PFT).

Daarom was Willie so onsteld omdat die 1983 Bybelvertaling telkens vertaal dat God ons regverdig omdat ons glo. As gevolg van sy beswaar is dit later op enkele plekke  gewysig, maar ongelukkig nie oral nie. Galasiërs 3: 22 gaan in die nuwe vertaling selfs so ver om te beweer dat Gods beloftes aan ons vervul word op grond van die geloof in Jesus Christus. Geen wonder dat mense in die NGK hulle gedurig weer wil laat doop op grond van hulle geloof nie, in plaas daarvan dat hulle glo op grond van hulle doop, d w s God se genade in Christus wat die Heilige Gees deur Woord en sakrament aan hulle toesê. Wat daar in werklikheid staan is die volgende: Maar volgens die Skrif is die hele wêreld vasgevang in die greep van die sonde; die belofte word dus vir die gelowiges vervul alleen op grond van (letterlik:) die geloof van Christus.

 

Die Griekse uitdrukking wat hier gebruik word, pistis Christou, beteken letterlik die geloof van Christus, d w s Christus se geloof. Oor hierdie uitdrukking wat sewe keer by Paulus voorkom,[11] is druk gedebatteer die afgelope dekades. Die probleem is dat die Griekse grammatika twee vertalings toelaat, nl Christus se geloof, én (ons) geloof in Christus. Interessant dat reeds die King James – vertaling uit die 17e eeu, in ses van die sewe gevalle dit vertaal as “the faith of Christ”. Die groot gereformeerde teoloog uit die 19de eeu, Herman Kohlbrugge, Karl Barth in die 20ste eeu, en talle teoloë in ons tyd waaronder ek myself inreken, verstaan dit ook so.

Die rede waarom mense so huiwerig is om hierdie uitdrukking letterlik te vertaal, kan waarskynlik uit die kerkgeskiedenis verklaar word. Gedurende die eerste drie eeue het die kerkvaders geen probleem gehad om van Christus se geloof te praat nie. Hebreërs 12: 2 bestempel Jesus immers uitdruklik as die Leidsman en Voleinder van die geloof. Die situasie verander egter in die vierde eeu met die opkoms van die Ariaanse stryd.[12]

Arius het ontken dat Christus waarlik God was en het hom beroep op die feit dat Christus geglo het, terwyl God nie glo nie. Athanasius kom met die teenargument dat die Griekse woord vir geloof (pistis) twee betekenisse het, nl vertroue, maar ook trou (Engels: faith en faithfulness). Dit geld inderdaad vir sowel die Griekse pistis as die Hebreeuse emunah. Trouens, Paulus kan pistis gebruik as sinoniem vir Gods geregtigheid dws sy verbondstrou. In Romeine 3: 3v. (1953-vertaling) lees ons: Sal hulle ontrou (apistia) die getrouheid (pistis) van God vernietig? Nee, stellig nie!, gee hyself die antwoord. Maar ongelukkig stem Athanasius blykbaar saam met Arius dat indien Christus God is, Hy nie glo nie. In werklikheid is dit ‘n aantasting van die hart van die evangelie nl dat God in Christus waaragtig mens geword het, Hom so met ons geïdentifiseer het, dat Hy ingedaal het in ons Godverlatenheid, om ons juis so met Homself te verenig. Vreemd dat in fundamentalistiese kringe mense selfs vandag nog moeite het om te aanvaar dat Christus nie alwetend was nie, maar dit blykbaar vanselfsprekend vind dat Hy gesterf het en begrawe is. Die regverdigingsleer stel hierdie doketiese[13] dwaling aan die kaak.  Christus se geloof is niks anders nie as sy gehoorsaamheid, vertroue en trou aan sy Vader tot in die dood, ja die dood aan die kruis (Filippense 2: 6-8).

Blykbaar het hierdie eenheid van vertroue(geloof) in sy Vader, en trou aan sy Vader telkens die vertalers ontglip. Indien ‘n man getrou is aan sy vrou en sy vertrou hom, dan is haar vertroue in hom juis haar trou aan hom. Meer nog, in Christus se vertroue in sy Vader, word juis sy Vader se trou aan ons en die res van die skepping, geopenbaar. In sy Seun se menswording vereenselwig God Homself só met die mens dat Hy in Christus voorsiening gemaak het vir wat vir ons onmoontlik was: ware vertroue en trou. ‘n Nuwe elektroniese vertaling van die Bybel (New Bible Translation) verkies om die uitdrukking pistis Christou te vertaal as the faithfulness of Christ. Om die eenheid van Christus se vertroue en sy trou tot uitdrukking te bring, verkies sommige eksegete om pistis Christi weer te gee as the faith/fulness of Christ.

 

In Christus glo ook  ons in God

In Galasiërs 3: 26 gaan Paulus volgens die Afrikaanse vertaling soos volg voort: Deur hierdie geloof in Christus is julle nou almal kinders van God. Dit is ongetwyfeld foutief. Die uitdrukking en Christo (in Christus) wat Paulus hier gebruik, is sy gunsteling frase wat ons meer as 80 maal in sy briewe teëkom. In Galasiërs 3: 26 sê Paulus nie dat ons in Christus glo nie, maar wel dat in Christus, ons glo. Deur sy vleeswording het God ons in Christus ingesluit, (Efesiërs 1: 10) sodat ons saam met Hom gekruisig is, en saam met Hom opgestaan het uit die dood. Soos ons deel het aan sy kruis en opstanding, so het ons in Christus deel aan sy geloof, sy trou en vertroue op God tot in die dood. (1Petrus 1: 21): Deur Hom (Christus) glo julle in God wat Hom uit die dood opgewek…Daarmee kom die Trinitariese struktuur van geloof na vore: the faithful God sends the faithful Messiah who by his Spirit creates in his people the response of faith. The words ‘through faith for faith’ (‘uit geloof tot geloof’, PFT) in Rom.1: 17 might well point precisely to such  reciprocity.[14]

 

Alles wat ons is en het, besit ons in Christus. In Christus, die Kind van God, is ons ook kinders van God. As gevolg van ons God-loosheid is ons in eie krag nie in staat om te bid nie (Romeine 8: 26), maar (Galasiërs 4: 6) omdat julle kinders is, het God die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader! Dit is Christus se eie gebed wat ons, in Christus deur sy Gees, bid (vergelyk Romeine 8: 15).

 

Ons geloof in Christus

Vir ons geloof in Christus gebruik Paulus ‘n ander indrukking in Galasiërs 2: 16. Daar lees ons dat ons eis Christon geglo het. Dit is nogal moeilik om die Griekse eis in Afrikaans te vertaal. Daar sit beweging in hierdie woordjie. Dit is die Engelse into: We believed into Christ. Miskien kan mens in Afrikaans sê: ons het in Christus in geglo. Om in Christus te glo, beteken  om as’tware uit jouself te verhuis en intrek te neem in Hom. Dit is die teenoorgestelde van ons God-lose ingebuigdheid op onsself, soos Luther sonde definieer, en gerigtheid weg van onsself na Gods genade buite onsself in Christus.

 

Wat so ‘n “verhuising” beteken, beskryf Paulus in Filippense 3: 8v (1953-vertaling) waar nóg een van die sewe voorbeelde van pistis Christou voorkom: Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry, en in Hom gevind te word nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur Christus se geloof is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof. Christus die Regverdige se geregtigheid is nou my eie geregtigheid en daarom juis die einde van alle eiegeregtigheid. Net so is Christus se geloof nou my eie geloof en daarom die einde van alle geloof in my geloof as teenprestasie vir God se genade. Immers (Galasiërs 19, 20): Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat (deur sy Gees) in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek (nog een van die 7 voorbeelde:) in die Seun van God se geloof, wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê. Ook my geloof is, soos Willie Jonker sou sê, geen morele kwaliteit nie. Dit is juis die doodvonnis oor alle (im)morele kwaliteite en skuiling soek in Christus.

 

Regverdiging, doop[15], en die eenheid van die kerk

Paulus gebruik presies dieselfde uitdrukking, eis (into) Christus, ook vir die doop. In Galasiërs 3: 27 (vergelyk Romeine 6: 3) sê hy: Want julle almal wat eis Christon gedoop is, het julle met Christus beklee. Die 1983-vertaling lui taamlik vry maar tog saaklik korrek: Want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Onmiddellik daarna vervolg die apostel (vss 28, 29): Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus is julle almal een. En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge (meervoud!) van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

 

Uit die regverdiging as lewe uit Gods genade wat in Woord en sakrament aan ons toegesê word, volg met noodsaak die eenheid van die kerk. In God se oordeel oor ons in die Gekruisigde Christus, word ons almal met die grond gelyk gemaak, en as ons eers met die grond gelyk is, is ons ook sommer met mekaar gelyk. Die hoogmoed van die Fariseër, ook in sy meer gesofistikeerde vorm as nabootsing van die tollenaar, verdeel; alleen die innerlike gebrokenheid van die tollenaar, verbind.

 

Vir die eenheid van die kerk is daar geen ander argument nie. Ook daarvoor dien die regverdigingsleer as kriterium. Eenheid wat gemotiveer word deur ‘n hunkering na mag, na politieke invloed, na maatskaplike relevansie, is die teendeel van ware eenheid in Christus. Slegs die eenheid wat vrug is van die regverdiging van die God-lose, maak van die kerk die sout vir die aarde en die lig vir die wêreld en sodoende ‘n stad op ‘n berg in ‘n wêreld wat dreig om in chaos te gronde te gaan. Daarom bid Jesus in Johannes 17: 21:… dat hulle een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.

 

Selfs ‘n eenheid wat ten doel het dat die wêreld moet glo, maar nie gedra word deur die regverdiging van die verlorenes in Christus nie, sal die wêreld nie oortuig nie – inteendeel, they will call our bluff. n Sekulêre strewe na eendrag maak mag, sal niemand help om te glo dat God sy Seun, die Gekruisigde, gestuur het tot heil van hierdie magsbeluste, God-vervreemde wêreld nie. Dít was die diepste dryfveer agter Willie Jonker se voortdurende pleitrede vir die eenheid binne die NG-Kerkfamilie.

 

In my laaste gesprek met hom, het hy telkens die verlange uitgespreek dat die Here hom sou kom haal. Soos Paulus het hy geweet, dat om heen te gaan en met Christus te wees, verreweg die beste is.

 

Daarom sluit ek af met die woorde van die digter Hildebert waarvoor die bekende J H Gunning[16] so lief was in oomblikke van groot heimwee en hunkering na ons ewige tuiste waar God alles in almal sal wees (1 Korintiërs 15: 28).

 

Me receptet Sion illa

Sion Dawid, urbs tranquilla

Cuius auctor faber lucis

Cuius portae lignum crucis.[17]

 

 

[1] W D Jonker, NGTT 1968, 132-143.

[2] W D Jonker, P F Theron, Vreemde geregtigheid. Oor die regverdiging uit genade alleen, Kaapstad (N.G. Kerk-Uitgewers) 1983, 14.

[3] Die ekumeniese karakter van hierdie belydenis blyk uit die talle ekumeniese debatte wat die afgelope dekades hieroor gevoer is. Die bekendste een was die tussen die Lutherane en die Rooms-Katolieke Kerk wat uitgeloop het op die Joint Declaration on the Doctrine of Justification, Grand Rapids 2000. In sy werk, Fides Christi: The Justification Debate, hoofstuk 4, bespreek Paul O’Callaghan ook nog die diskussies tussen die Lutherane en Gereformeerdes, die Lutherane en die Metodiste, dié tussen die Luthers-Baptiste en Luthers-Ortodokse, die Evangeliese en Oud Katolieke, die Metodiste en Rooms-Katolieke asook die Anglikane en Rooms-Katolieke.

[4] Joint Declaration on the Doctrine of Justification, Grand Rapids 2000.

[5] ZThK 94 (1997), 394-406.

[6] W A 8, 685, 6-10. Indien jy onder die indruk verkeer dat Hervormingsfees ten doel het om die Luther te vereer, sal hy aanbeveel dat jy liewer Sondagoggend saam met jou morele mederwaardigheid in die bed bly.

[7] Hoewel die presiese woorde eers deur Alsted in die 17e eeu gebruik word, (Paul O’Callaghan, Fides Christi: The justification debate, Dublin, Portland 1997, 19) kan ‘n mens maklik ‘n bloemlesing saamstel van soortgelyke uitsprake deur sentrale figure tydens die Hervorming Sien byvoorbeeld E Jüngel, Das Evangelium von der Rechtfertigung des Gottlosen als Zentrum des christlichen Glaubens, Tübingen (Mohr Siebeck) 4 Auflage 2004, 13vv.; R Schwarz, Luthers Rechtfertigungslehre als Eckstein der christlichen Theologie und Kirche, in: ZThK B 10 (1998), 14-16. Ook K Barth, Church Dogmatics 1V/1 521v. Vir verdere literatuur, P F Theron, “Devastating Grace: Justificatio impii and I-dentity” in: NGTT 2006, 117.

[8] Sy kritiese karakter bring mee dat die leer oor die regverdiging dikwels nie uitdruklik ter sprake kom nie, maar gereflekteer word in die ander dele van die kerk se belydenis. Dit gaan immers ook nie om die letter van hierdie leer nie, maar om die (G)gees. Die Scots Confession van 1560 het nie eers ‘n afsonderlike artikel oor die regverdigingsleer nie. It has no place of its own; rather does justification belong to the inner texture of the Gospel and becomes evident as its cutting edge. That is to say, justification makes decisively clear the very essence of the Gospel of salvation by grace.T F Torrance, “Justification: Its Radical Nature and Place in Reformed Doctrine and Life” in: Theology in Reconstruction, London (SCM Press) 1965, 150. In sowel Luther se Klein as Groot Kategismus ontbreek die terminologie van die regverdigingsleer geheel en al. E Jüngel, Das Evangelium von der Rechtfertigung des Gottlosen, 17. Thomas Oden is oortuig dat, hoewel hierdie leer eers in die tyd van die Reformasie sterk op die voorgrond tree, daar wat die gees betref, ‘n klassieke konsensus hieroor bestaan. The Justification Reader, Michigan, Cambridge, 2002. Dit verklaar ook Calvyn se moeite om telkens aan te toon dat wat die hoofsaak (summa) betref, hy dieselfde verkondig as die Skrif en die kerkvaders. Sien Randall C. Zachman, John Calvin as Teacher, Pastor, and Theologian. The Shape of his Writings and Thought, Grand Rapids (Baker) 2006, 84. Hy wys daarop dat Calvyn gewoonlik Peter Lombardus beskuldig vir die afwyking van die tradisie. “For when Augustine says anything clearly, Lombard obscures it, and if there was anything slightly contaminated in Augustine, he corrupts it. The schools have gone from bad to worse until, in headlong ruin, they have plunged into a sort of Pelagianism.” Institusie 3.11.15. Daarteenoor het Calvyn groot waardering vir Bernardus van Clairvaux wat nie in die tradisie van die skolastiek nie, maar van die kloosters staan.

[9] Vir ‘n analise van die verskil tussen toleransie en pseudo-toleransie verwys ek graag na die werk van Andreas Kinneging, Geografie van goed en kwaad. Filosofiese Essays, Utrecht (Spectrum) 2005, Hoofstuk 3.

[10] W D Jonker, “Faith and Justification”, 140.

[11] Romeine 3: 22, 26; Galasiërs 2: 16 (twee maal); Galasiërs 3: 22; Filippense 3: 9. Vir meer uitvoerige literatuur sien P F Theron, “Unity and Justification: The Faithfulness of God, the Faith/fulness of Christ, and the Faith of the Church”, in: E A J G Van der Borght (ed), Religion without Ulterior Motive, Leiden, Boston (Brill) 2006, 119-138.

[12] Sien die diepgrawende studie van Ian G. Wallis, The faith of Jesus Christ in the early Christian Traditions,Cambridge (Cambridge University Press) 1995, 200-209.

[13] Die doketisme (van die Griekse dokein) ontken dat Christus volkome mens was wat werklik gely en gesterf het. Laasgenoemde sou net skyn wees.

[14] Markus Barth, “The Kerygma of Galatians”, in: Interpretation XX1 (April 1967/2), 145. Vergelyk ook Douglas A Campbell, “Romans 1: 17 – a crux interpretum for the pistis Christou debate”, in: JBL 113/2 (1994) 265-285, wat Romeine 1: 17 soos volg weergee (281): The eschatological saving righteousness of God is revealed in the gospel by means of faithfulness (namely, the faithfulness of Christ), with the goal of faith/fullness in the Christian.

[15] Martien E Brinkman, “Contextual Theology without Ulterior Motives”, in: E A. J. G. Van der Borght (ed) Religion without Ulterior Motive, Nederland (Brill) 2006, 228: Because of baptism’s character as a gift, this sacrament – together with the Lord’s Supper – has been viewed as one of the most expressive symbolizations of the essence of the doctrine of justification.

[16] Sien M J A De Vrijer  Gunning Tragicus. Prof. Dr J H Gunning Jr in den Kring zijner Broeders, Den Haag, (D A Daamen’s) 1946, 103.

[17] My ontvang eens gindse Sion/ Sion van Dawid, stad van rus/ waarvan die bouheer die Skepper is van die lig/ waarvan die poort die hout is van die kruis.