Soekers na hoop

Daar is goed waaroor ons beheer het en keuses kan uitoefen en dan is daar dinge waaroor ons min en selfs geen beheer het nie. Jy het geen beheer oor wanneer dit weer gaan reën nie. Jy het wel besluit om vanaand na hierdie praatjie te kom luister. Klimaatsveranderinge is wel die gevolg van ons, mense, se besluite en keuses oor eeu heen. Ons, as individue en groep hier vanaand, kan nie die klimaat more verander nie, maar dit wat ons elke dag doen, hoe ons ons kinders groot maak en vele klein optredes, lewer wel ‘n bydrae, hoe klein ook al, tot die klimaatsveranderinge in die wêreld van die toekoms.

Dankie dat jy die keuse uitgeoefen het, en die tyd afgestaan het, om vanaand te kom. Jou hier wees sê vir my dat jy nie net passief deur die lewe wil gaan nie. Baie besluite neem ons nie net een keer nie, maar ons neem dit keer op keer, soms dag na dag.

Ek gaan ’n paar gedagtes oor hoop deel en more in die erediens vanuit ‘n ander hoek nog ’n paar gedagtes deel. Die verskillende punte oorvleuel en hou verband met mekaar.

Die hoop waarna ek verwys is nie dieselfde as die Toyota advertensie s’n nie. Dit beteken nie dat alles reg was; reg is of in die toekoms reg sal kom nie. Dit is nie ’n storie van alles sal maar net beter word nie. Die hoop waarna ek verwys gaan saam met die wete dat hartseer (grief) en hoop saam kan bestaan – die een sluit nie die ander een uit nie.

“To hope is to gamble. It’s to bet on the future, on your desires, on the possibility that an open heart and uncertainty is better than gloom and safety. To hope is dangerous, and yet it is the opposite of fear, for to live is to risk” (Solnit 2016:4).

Hoop beteken nie dat ek outomaties sekerheid het nie; hoop kan te midde van onsekerheid nog steeds bly bestaan. Om hoop te vind beteken ook dat ons moet kies om op reis te gaan om soekers van hoop te word. Ons is soekers van hoop, wat anderste is as om maar net ’n ewige optimis te wees. Daar hoef nie ’n krisis te wees voor jy ’n soeker na hoop word nie, alhoewel ons dikwels vind dat krisisse ons aanvuur en die katalisator is vir nuut dink en anderste doen.

Wat beteken dit om dag na dag ’n soeker van hoop te wees? Soekers van hoop …

1       Omarm verandering

Ek weet die droogte, die ekonomie en die politiek is waarskynlik vir baie van julle van die grootste uitdagings. Dit is egter ingemessel in ’n snel veranderende sameleweing en wêreld.

Die vinnige pas waarteen die wêreld verander is een van ons grootste uitdagings vir mense. Dit is een van die dinge wat ons spanningsvlakke so opjaag dat ons dikwels nie kans sien vir die ander uitdagings nie.

Die pas van verandering het begin versnel toe Gutenberg in 1440 sy drukpers bekend gestel het. Die stoomenjin en die daaropvolgende industriële revolusie het die pas net verder verhoog. Tans verdubbel die hoeveelheid transistors wat op ’n rekenaarbord geplaas word elke twee jaar. Dit beïnvloed kommunikasie, rekenaarkragtigheid en skep voortdurend nuwe moontlikhede. Volgens ’n studie van Oxford-universiteit kan ons verwag dat tot 47% van huidige werke kan verdwyn in die volgende 25 jaar (http://bigthink.com/philip-perry/47-of-jobs-in-the-next-25-years-will-disappear-according-to-oxford-university).

Veranderinge vind weinig op ’n voorspelbare en beheerbare manier plaas. Die pad vorentoe is amper nooit ’n reguit pad nie. Dit is in hierdie snelveranderende en onsekere omgewing waarin ons soekers van hoop moet wees.

2       Pas hulle lewensritmes aan van tyd tot tyd

Dit beteken ons stel ons daarop in om nie vas te val in die alledaagse ritmes van die lewe nie. Dit is goed om ritmes te hê, maar die ritmes moet nie vas word, sodat ons dit nie kan verander nie. Ek kan dink dat gesonde boerdery sekere ritmes het. Veranderende omstandighede kan nuwe ritmes vra.

Ons kan so gewoond raak aan 6:00 in die oggend opstaan en 10:00 vanaand gaan slaap dat ons vies is as ons ritme verstuur word. Ons kan so gewoond raak aan ons man/ vrou/ kinders/ werknemers/ werkgewers/ kerk dat niks meer ons ritme versteur nie.

3       Is gemaklik daarmee dat ons as mense nie almal dieselfde is nie

In 1981 het die neurosielkundige en neurobioloog Robert Sperry die Nobel-prys gekry (saam met ander) vir sy werk op die “split-brein” teorie. Sommige mense is meer linkerbrein dominant en ander meer regterbrein dominant. Dit verwys eintlik spesifiek na die neurokorteks deel van die brein. Ons is nou al weer versigtiger as ’n paar jaar terug om mense in sulke spesifieke kategorieë op te deel. “No complete left or right brain person exists” (Kobus Neethling). Tog is daar aanduidings dat daar wel duidelike voorkeure by mense is. Die punt is, almal is nie soos ek nie, en ek moet leer om daarmee gemaklik te wees.

4       Is bewus van die belangrikheid van die groter prentjie

Wanneer alles voor die hand liggend en duidelik is, is dit nie nodig om ’n hoopsoeker te wees nie. Ons is soekers juis omdat ons daagliks deur soveel onduidelikhede en onsekerhede omring word. Vele dinge maak ons lewe baie makliker as dié van vorige geslagte. Terselfdertyd word ons op ander vlakke baie meer uitgedaag as vorige geslagte. Die lewe het meer kompleks geword omdat daar meer sisteme is wat ons in gedagte moet hou en daardie sisteme meer verbind is met mekaar. Ekonomie, en ook klimaatsverandering, is voorbeelde.

Die magdom inligting waarmee ons oorspoel word en die kleiner wordende wêreld kan ons baie magteloos laat voel. By verstek (in Engels praat ons van “default”) probeer ons dikwels om alles te vereenvoudig sodat ons dit kan begryp. Maar dit word ‘n probleem as ons in daardie posisie vassteek en nie ook probeer om die groter prentjie raak te sien nie.

Die groter prentjie sluit dikwels in dat ons bereid sal wees om ook paradokse vas te hou. Daar is soms goed wat oënskynlik teenoor mekaar staan, maar albei kante van die saak kan waar wees of elemente van waarheid inhou.

5       Verstaan dat om hoop te soek, ’n riskante saak kan wees (risky business)

Om ’n soeker te wees beteken om uit jou gemaksone te beweeg en rondom jou te kyk en die lig te laat val op die onbekende en selfs onbeminde. Jy stel jou ook bloot aan die risiko van teleurstelling en moontlik valse beloftes.

Hoopsoekers is bereid om te waag. Ongelukkig moedig ons mekaar aan om jou lewe lank veilig te speel eerder as om te waag.

6       Is agente van verandering

Verandering kom eintlik net as ons bietjie verder as die gewone dink. Hoopsoekers is op die uitkyk na nuwe geleenthede; ander moontlikhede vir jouself, jou familie, jou omgewing en selfs vir diegene wat nie naby aan jou is nie.

“Challenges can be stepping stones or stumbling blocks.”

7       Begryp dat probleme is ons werk!

Ons het dit eintlik in ons DNA om probleme te kan hanteer. Wat ongesond is, is om probleme te ignoreer en ontken. Deur probleme in die gesig te kyk en te hanteer is eintlik ’n daad van hoop. Natuurlik  kan ons wanhopig raak wanneer ons begin dink dat daar niks anders as probleme is nie, en nie ook mooi dinge in die lewe kan raaksien nie, of wanneer probleme, en dis gewoonlik ’n spesifieke probleem, ’n obsessie by ons word.

8       Besef die belangrikheid van prosesse

Hoop is nie daardie magiese deur in die muur wat ek moet vind om in feetjieland uit te kom nie. Hoopsoekers weet die meeste goed in die lewe wat blywend en volhoubaar is, is gekoppel aan prosesse. Dit is so dat prosesse baie energie vereis, maar die langtermyn uiteinde kan soveel beter wees. Om iets eers met ander betrokkenes te bespreek voor jy dit deurvoer kan tyd neem maar ’n baie beter uiteinde hê.

Wanhoop is eintlik maklik want dit verg in werklikheid minder van ons.

9       Is bereid om weer soos ’n kind te probeer leer

Kinders leer veral uit ervaring, negatief en positief. Kinders is bereid om iets weer te probeer, selfs al was dit ’n negatiewe ervaring, maar op ’n ander manier. Dit is hoe ’n kind leer loop en om dinge vir hulle self te doen. Volwassenes leer dikwels uit negatiewe ervarings om iets te vermy. Daar is die gevaar dat hoe ouer ons word, hoe meer leergestremd ons raak. Ons sien slegte ondervindinge as ’n aanklag teen ons as mens.

Indien jou besigheid misluk, interpreteer ons as volwassenes dit maklik as ’n bewys dat ek as mens ’n mislukking is.

10    Is bereid om kreatiwiteit as belangrik te beskou

Daar word beweer dat Albert Einstein gesê het: “Verbeelding is belangriker as kennis”. Kobus Neethling verwys na ’n studie waar 98% van 3 tot 5-jarige voorskoolse kinders kreatiwiteit getoon het, maar op die ouderdom van 25 net 2%.

Kreatiwiteit is belangrik omdat dit wat in die verlede gewerk het nie noodwendig in die toekoms gaan werk nie. Een van die valse hoop bakens wat ons moet vermy, is die een wat hoop probeer bou uit die nostalgie van hoe dinge altyd beter was in die verlede. Natuurlik is daar dinge wat ons probeer wat nie werk nie en waar ons maar weer teruggaan na vorige maniere wat goed gewerk het. Hoekom is dit verander in die eerste plek?

Dan is daar altyd ook nog die vraag of die verlede vir almal goed was, of net vir party. Almal onthou nie altyd die verlede so positief soos ek nie.

11    Doen dinge omdat dit reg is

Hoop is om dikwels vir iets te werk en jou energie daarin te sit omdat dit reg en goed is – en nie omdat jy weet jy of die saak gaan sukses bereik nie. Natuurlik hoop ons almal vir vinnige, goeie uitkomste, maar ons hoop kan nie daarop gebou word nie.

12    Hanteer konflikte

Ons kan op geen manier dink om deur die lewe te probeer gaan sonder dat daar konflikte op ons pad kom nie. Elke verhouding waarin ons ons self bevind het die moontlikheid van konflik. Die probleem is nie die konflik nie, maar ons hantering van die konflik.

13    Is op die uitkyk vir fly-by-night (of swendelaar-) “profete”

Gewoonlik verskyn hulle net in moeilike tye. Daar is diegene wat net die positiewe verkondig en voorspelings maak van die wonderlike dinge wat net om die draai is. Dan is daar diegene wat lyk of hulle ’n sekere plesier daaruit kry dat dinge verkeerd loop. Hierdie geslag, word daar geredeneer, is so sleg en sondig hulle kan net sulke slegte dinge verwag. Dit gaan gewoonlik gepaard met ’n persoonlike, selfregverdigende aanslag. Om ’n vreemde rede het verhale van agteruitgang en verwoesting soms ’n outoriteit wat goeie verhale van hoop skynbaar nie het nie. Hierdie tipe profete dink dan ook deterministies oor dinge. Hulle glo óf dat alles sleg moet eindig, anderste sal daar niks goeds kan gebeur nie; óf het ’n spesifieke sonde of twee in gedagte wat, as dit bely en laat staan word, alles sal laat regkom.

Ten slotte:

Die woorde van Rebecca Solnit (2016:4):

“Hope just means another world might be possible, not promised, not guaranteed. Hope calls for action; action is impossible without hope.”

Bronne

Anthonissen, Kobus 2017. Dansend met die Lewe: In die jeug van veroudering. Naledi

Conradie, Ernst 2000. Waaroor lewe jy: 9 redes om te lewe. Lux Verbi

Meyer, Hennie (s.j.) Moed om ’n nuwe more te begroet. Squid Art Printers

Neethling, Kobus 1994. Creative People Can Perform Miracles. Benedict Books

Peck, M Scott 1997. The Road Less Travelled and Beyond: Spiritual Growth in an Age of Anxiety. Rider Books

Solnit, Rebecca 2016. Hope in the Dark: Untold Histories, Wild Possibilities. Canongate

Laingsburg 21 Oktober 2017