Rom 4:13-25; Verkorte weergawe verskyn in Woord en Fees, Preekstudies en Liturgiese Voorstelle RCL Jaar B 2017-2018, 89-92

1       Inleiding, indeling en Konteks

Die meeste kommentators (daar is enkele uitsonderings) is van mening dat die Romeine brief heel waarskynlik geskryf is aan die die einde van 55 nC. Dit is ook die tydperk waarin Paulus sy derde sendingreis voltooi het. Aanduidings is dat Paulus in Korinthe of omgewing tuis gegaan het met die skrywe van die brief. Aangesien die vermoede bestaan dat die gemeente in Rome hoofsaaklik vanuit die heidendom (Grieke en Romeine) gekom het, is daar vrae oor hoekom die brief soveel aandag gee aan die vraagstukke van die Jodedom. So word die wet en besnydenis deeglik bespreek (Romeine 3-4), en dan is daar natuurlik ook die bekende Romeine 9-11. Dit het sommige laat dink die Joodse aandeel van die Joods-heidense komposisie van die gemeente was miskien groter as wat voorheen vermoed is. Nie almal deel in die opinie nie. Dit kan ook wees dat Paulus die vraagstukke volledigheidshalwe bespreek het, en nie spesifiek met die oog op die Jode nie. “Paulus moes eenvoudig ingaan op die posisie van Israel om te laat sien hoe die verwerping van Israel in verband gebring kan word met sy prediking van verlossing deur genade alleen” (Jonker 1976:15).

Indeling: Rom 1:18-4:25 vorm ’n oorhoofse eenheid, met as hoofargument dat, in Christus dit geopenbaar is dat die regverdiging voor God nie deur die wet nie, maar deur genade alleen geskied (Burger 1983:125). Die perikoop onder bespreking (Rom 4:13-25) is deel van ’n eenheid wat eintlik al by Rom 3:21 begin. In Rom 4:1-8 verduidelik Paulus aan die hand van Gen 15:6 (en Psalm 32) sy basiese tesis, naamlik dat Abraham nie volgens verdienste nie, maar deur die geloof geregverdig is. Die argument word verder hanteer in Rom 4:9-12 deur die kwessie van die besnydenis te bespreek. Paulus is nie in beginsel negatief oor die besnydenis nie, maar sou die besnydenis ’n wettiese reël begin word, dan moet hy dit afwys.

In Rom 4:13-17 verduidelik Paulus weer dat dit nie die onderhouding van die wet is wat tot Abraham se regverdigverklaring lei nie. Romeine 4:17-25 fokus veral op die aard van Abraham se geloof (Burger 1983:126).

Konteks: In beide die Joodse en Romeinse samelewings het wette ’n belangrike rol gespeel. Die Jode het die tien gebooie uitgebrei tot meer as 600 wette, sodat elke lewensterrein geraak is deur ’n duidelike wet. Die Romeine het hul wette beskou as ’n manier om die wêreld te regeer.

Vir die Jode was afstammelingskap van Abraham belangrik, sodat hulle op die beloftes van God aanspraak kon maak. Daarom is die besnydenis dan ook as so belangrik geag. Paulus neem ’n radikale ander standpunt in: Abraham is vrygespreek voordat hy besny is, en Paulus dui in Romeine 4:9-12 aan dat selfs die besnydenis ons nie aanvaarbaar maak voor God nie.

2       Teks

Vers 13: Daar is ’n duidelike teenstelling in die gedeelte: “nie deur (dia) die wet nie … maar deur (dia) geregtigheid van die geloof”. Die wet verwys hier na die wette van Moses eerder as na wette in die algemeen.

Die “dia” moet, volgens Cranfield (1975:238-239), instrumenteel vertaal word. “Paul’s meaning may then be understood to be, not that it was not through the instrumentality of the law but through that of the righteousness of faith that the promise was given, …the promise was not given on the condition of its being merited by fulfilment of the law but simply on the righteousness of faith.” (Cranfield 1975:239).

Die belofte aan Abraham was dié van ’n nageslag (Gen 12:2; 13:16; 15:5; 18:18); besit van die land Kanaän (Gen 12:7; 13:14f; 17; 15:7; 18-21; 17:8); en dat die nasies in Abraham en sy nageslag geseën sal word (Gen 12:3; 18:18). Hoewel God Kanaän aan sy volk beloof het, het die Jode in die tyd van Christus geglo wanneer die Messias kom, gaan hulle die hele wêreld as beloning kry as gevolg van hul wetsonderhouding.

Dit wil voorkom of Paulus dan ook die reikwydte van die belofte hier as die wêreld verstaan. Lekkerkerker (1974:187) meen dat, vir Paulus, die belofte teenoor die Wet staan. Dit word veral duidelik indien Gal 3:15-18 in gedagte gehou word. Die belofte verwys dan op die toesegging van God se genade deur Christus wat ons regverdig maak. Abraham en sy nageslag is dan erfgename van ’n belofte waarvan die wydte geen einde ken nie.

Die NAV vertaal die “dia dikaiosunēs pisteōs” as “maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het”. Die Direkte Vertaling (DV) vertaal dit “maar deur die geregtigheid van die geloof”, wat baie nader aan die oorspronklike is.

Vers 16: Die vertaling van die NAV van vers 16, wat die ek pisteōs met “deur die geloof” vertaal, word nie deur alle ander vertalings nagevolg nie. Die OAV het dit vertaal as “uit die geloof” en die Direkte Vertaling vertaal dit met “op die geloof”. Die NIV vertaal dit met “by faith”. Die vertaling van “deur die geloof” sou meer sin gemaak het as die Grieks die uitdrukking diapistin (op grond van ons geloof) gebruik het.

Vers 17: “in die oë van God” is soortgelyk aan die OT “voor die aangesig van God”. Wat daarop volg, is volgens Lekkerkerker (1978’:193) ’n moontlike aanhaling uit ’n liturgies gebed, waarin God wat die dooies lewend maak, dan ook as danksegging aangeroep word.

Die hoop wat ons het deurdat ons glo dat ons in genade vrygespreek word, word ’n werklikheid in die opstanding. Hier is’n heenwyse na Christus se opstanding waarin ook die gelowiges se opstanding ingesluit is.

Vers 19: Daar is in vers 19 ’n tekskritiese probleem wat ’n baie klein wysiging in die vertaling teweegbring, maar wat wel moontlik ’n inhoudelike implikasie kan hê (Burger). Die beste teksgetuienis laat die “nie” weg. Die OAV behou die “nie”, maar die 1983 en Direkte Vertaling (DV) laat dit weg – wat ’n mens kan verwag, gebaseer op die brontekste wat hulle gebruik.

As die “nie” behou word, is geloof só blind dat jy nie raaksien dat jou liggaam agteruit gaan nie. Die alternatiewe tekskritiese lesing wat deur die ander twee Afrikaanse vertalings en vele ander vertalings gevolg word, impliseer dat Abraham bewus was van wat aan die gebeur was met sy liggaam en dié van Sara, maar dat hy God nog steeds vertrou.

Vers 25: Die werkwoord “oorgelewer” (paradidōmi) kom twee keer in die LXX vertaling van Jesaja 53 voor (53:6, 12). In 1 Kor 11:23 word dit gebruik met die instelling van die nagmaal.

Die vraag is of die dia met die akkusatiewe vorm van die werkwoord as oorsaaklik vertaal moet word of nie. Dat dia twee keer gebruik word in die sin dia paraptōmata (oortredinge) en dia dikaiōsin (geregtigheid), skep vertalingsvrae. Sekere eksegete meen dat hier sprake is van ’n ekwivalent van Hebreeuse paralellisme, en dat dia in altwee gevalle op dieselfde manier vertaal moet word.

Só het die OAV en die DV (en die NIV) dit vertaal: “oorgelewer ter wille van ons misdade en opgewek ter wille van ons regverdigmaking”. Die NAV lees weer: “Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.”

DV: “Hy is ter wille van ons oortredinge oorgelewer en ter wille van ons regverdigmaking opgewek”. NIV: He was delivered over to death for our sins and was raised to life for our justification”

Jonker (1976:76) sê Christus is ter wille van ons oorgelewer en opgewek. Die opstanding is die bewys dat die skuld betaal is. Lekkerkerker (1978:199-201) kom ook tot die slotsom dat Kruis en Opstanding een heilsdaad van God is.

3       Teologiese nadenke oor Geloof

Die eksegese van die gedeelte stoot deur na ‘n nadenke oor hoe geloof verstaan word. In Rom 4:1-8 word geloof omskryf as die teenoorgestelde van goeie werke. Geloof is ‘n passiewe, ontvangende instrument sonder enige werkende krag. Die geloof is parasities van aard en leef van en teer op die genade van die God, wat volgens Rom 4:5 die goddelose regverdig verklaar (Burger 1983:130). In Rom 4:9-12, word op die universele moontlikheid van geloof gewys. God is nie net daar vir die besnedenes nie, maar ook vir die onbesnedenes, ja vir die wêreld. Niemand word uitgesluit nie.

Rom 4:13-25 sluit ten nouste by die voorafgaande aan. Die stryd teen die rol van die wet word voortgesit. Die beloftes van God word ontvang, of waar gemaak, nie deur die wet nie, maar “deur die geregtighed van die geloof” (Direkte Vertaling). Geloof wat ingebed is in genade (4:16).

Dit bevestig dat dit in geloof gaan om die genadehandelinge van God. “Ons hoef nie ons sekerheid te bou op óns geloof nie, maar wel op Gód’s geregtigheid wat tot uitdrukking kom in Christus se geloof (sy trou, sy geloofwaardigheid)” (Theron 2011:12).

Die gevaar is dat die manier waarop geloof in ons teks verstaan word vir ons ’n vervanging van “goeie werke” word. So kon Bellarminus, een van die groot Roomse teenstanders van die Hervorming, nie verstaan waarom daar so baie deur die Reformatore gewaarsku word teen werkgeregtigheid nie. Volgens sy gevoel, vervang geloof maar net die plek van goeie werke. Trouens, die vraag wat na vore gekom het, was: wie dink die klomp Reformatore is hulle dat hulle dink hul geloof is so groot dat dit hulle kan red? Ons kan die opmerking van Bellarminus begryp, want tot op hierdie dag klink die manier waarop geloof dikwels beskryf en vertoon word, deur diegene in Protestantse kerke, asof geloof bloot goeie werke vervang het.

Presies hoe geloof werk, weet ons nie, maar dat dit nie soos ander sake werk nie, is duidelik. In die Gereformeerde tradisie word die mens se verhouding tot geloof beskryf met die woorde “die leegheid van die geloof”. Daarmee word gepoog om iets tuis te bring van geloof wat op sigself nie ’n besitting van ons as mens kan wees nie.

Geloof word vir ons gegee. Dit wat God vir ons bedoel om te wees is klaar aan ons gegee. Ons is dit reeds in God se oë. Dit kan ’n klein bietjie help om nie reglynig aan geloof te dink nie – so asof dit iets is wat ons by punt A ontvang en wat ons nou saamdra na punt B – maar eerder as ’n sirkel, met geen vaste begin en eindpunt nie.

Ons vind iets van hierdie sirkelbeweging in ons teksgedeelte. Deur God word Abraham die “vader van baie nasies gemaak” (4:17); dan word in 4:18 weer gesê van Abraham: “Hy het teen alle verwagting in bly hoop en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word” (DV).

Vir sommige mense beteken geloof dat jy jou oë vir die werklikheid sluit. Vir hierdie vorm van geloofsdenke is ’n optimistiese siening van gebeure belangrik. Dan ontaard “geloof” in ’n optimistiese selfbedrog.

Die geloof te sprake in ons teksgedeelte beteken nie om blind te wees vir die realiteit nie, maar om ten spyte van die realiteit rus te vind vir ons onstuimige gemoed. Omdat geloof hier nie met iets in my te doen het nie, maar wel met God en God se betroubaarheid.

Geloof, dan, wil ons nie blind maak vir die dikwels hopelose situasies waarmee ons te doen het nie. Geloof is nie om ’n positiewe “spin” op ’n benarde situasie te plaas nie. Geloof het te doen met wat God deur sy Gees in ons hart bewerk en dit is altyd ’n wegkyk van onsself. Wie wegkyk van hom of haarself, vind God se geregtigheid. Maar selfs die wegkyk ontvang ons in genade.

In ons teksgedeelte word Abraham aan ons voorgehou as die voorbeeld van geloof. Abraham, as voorbeeld, kan eintlik nie anders as om ons te laat verstaan hoe broos, en onmoontlik, die menslike kant van geloof is nie. Geloof blyk nie iets te wees wat ons kan “regkry” nie. Abraham se geloof, soos ons geloof, is ook maar toegevou in ’n worsteling met onsekerhede. Al worstelend ontvang Abraham – en ons – geloof deur God se genade. Paulus gebruik Abraham as ’n voorbeeld van God wat ons regverdig uit genade. Al wat Abraham moes doen, was om net dit wat God vir hom wou gee, te ontvang (Jonker 1983:35).

Paulus sou goed bewus gewees het van Abraham se reaksie, in Gen 17:17, toe hy hoor dat Sara ’n kind gaan baar. “Toe het Abraham op sy knieë geval en hy het gelag en gedink: kan daar vir ‘n man van honderd ’n kind gebore word, of kan Sara wat negentig is, ’n kind in die wêreld bring?” (NAV)

Om op sy knieë te val was ’n kultiese handeling van aanbidding, dit was ’n diep godsdienstige handeling en ’n teken van oorgawe. Dirkie Smit (1998:50) beskryf dit so: “Dis die volle liturgie van die geloof.” Maar in sy hart het hy gelag en gedink dit is tog nie moontlik nie. Trouens, sy gesprek daarna met God bevestig dit. Hy vra God om maar vir Ismael te seën. Hy meen God kan sy belofte van ’n nageslag waar maak deur Ismael as die nageslag te bevestig.

“Wat ’n verstommende verhaal! Die vader van die geloof hou vroom vol met godsdiens, maar in sy hart lag hy vir die beloftes, en dink: Ek sal dit nooit hardop sê nie, maar dit kan tog nie werk nie … Dis die lag van siniese realisme, van godsdienstige ongeloof.” (Smit 1998:50).

In Genesis 18 lag Sara ook. Maar die aangrypende gebeur in Gen 21:1-7, waar die Here Sy belofte nakom soos Hy beloof het, en die kind Isak genoem word – soos die Here beveel het. En Isak beteken dan ook in Hebreeus “gelag”.

Abraham se geloof blyk nie op Abraham se positiewe denke gebou te wees nie, maar op God se genadehandelinge. Geloof is in werklikheid ’n misterie – en sommige sou verkies om dit ’n wonderwerk te noem. Paulus kyk na Abraham deur die lens van die kruis en die opstanding. Die lig van die opstanding is nodig om God se genadehandeling regtig raak te sien, want anders bly ons vaskyk in die prestasie wat die mens moet lewer.

Geloof is nie daardie droom dat die onmoontlike moet gebeur nie. Geloof het te doen met die onmoontlike – wat klaar gebeur het, naamlik, die sterwe en opstanding van Christus, die vrywillige prysgee, vir ons as onregverdiges, deur die Regverdige, van Sy lewe.

Ons eie geloofsvertroue, volgens Luther, is op sy beste maar getrooste vertwyfeling (desperation fiducialis), (aangehaal deur Burger). Ons geloof is niks meer nie as om rus te vind in God se betroubaarheid en beloftes, maar dan op ’n wyse waar ons geloof nie die aktiverende agent is wat nodig is sodat God se betroubaarheid en beloftes waar kan word nie. Geloof is heeltemal op genade gerig en genade kan net deur geloof ontvang word. Geloof laat God toe om ons regverdig te verklaar op grond van die geregtigheid van Christus.

“Daarom is verlossing uit genade en verlossing deur die geloof één en dieselfde ding. Dié twee uitdrukkings is sinoniem. Geloof is heeltemal op die genade gerig, en die genade word alleen deur die geloof ontvang. Die geregtigheid wat die geloof ontvang, is dus nie iets van die mens self nie. Die geloof maak ’n mens regverdig, omdat die geloof God toelaat om ons regverdig te verklaar op grond van die geregtigheid van Christus”. (Jonker in Vreemde Geregtigheid, 37).

Ons geloof maak ons nie geregverdig voor God nie, Christus is ons geregtigheid voor God (Jonker 1983:39). Theron neem dit trouens nog ’n stappie verder, wanneer hy sê dat Christus die regverdige eintlik die enigste ware gelowige is (2011:50). “Ons geloof is deelname aan Christus se geloof deur die Heilige Gees …” (2011:52).

Een ding blyk duidelik, en dit is dat Paulus nie poog om van “geloof” weer ’n werk te maak nie. Dit is ook nie die bedoeling van Rom 3:27 nie, waar Paulus praat van die “wet van die geloof”.  Geloof adem iets total anders in as werke. Geloof is nie iets wat jy as eiendom kan besit nie, dit is iets wat die Gees in jou hart bewerk. Geloof is nie los te maak van God se geregtigheid in Jesus Christus nie.

Volgens Paulus regverdig God die goddelose (Rom 4:5). Die geloof waarvan Paulus praat sluit alle vorm van roem uit. Selfs die boetvaardigheid van die tollenaar (Luk 18) is nie genoegsaam nie. ’n Foutiewe begrip van geloof kan baie maklik tot ’n vorm van hoogmoed lei. Maar meer nog as dit, kan dit onderdrukkend wees en ’n swaar las op mense plaas in hulle donkerste oomblikke. Geloof kan baie maklik ’n ander vorm van wettiese handeling word – ’n las, wat op dié wat worstel en twyfel, gelê word.

Met geloof alleen word eintlik maar bedoel met genade alleen, wat beteken Christus alleen (Theron 1983:44). Volgens Theron was die Hervormers se gedagte nie dat ’n mens seker van jou geloof as iets selfstandigs kan wees nie, maar dat jy wel seker kan wees van God se genade in Christus. Daarom is geloof nie geloof in my geloof nie, want dit is eintlik niks anderste as ongeloof nie (Theron 1983:44). Die geloof ter sprake is om selfs met ons ongeloof te vlug na Jesus Christus (Mark 9:24).

4       Preekskets

Die teks sal baie makliker inpas by ’n geleentheid vir Hervormingsondag aan die einde van Oktober, of selfs by die bevestiging van lidmate. Dit lyk op die oog af na ’n moeilike teksgedeelte om te gebruik as ’n lydingstyd-teks. Die teks is egter aan ons gegee spesifiek vir die Tweede Lydingsondag, die sogenaamde Reminiscere (onthou) Sondag.

Die prediking van hierdie gedeelte moet die fyn lyn loop rondom die figuur van Abraham. Dit gaan nie oor Abraham die held, of oor Abraham se geloof nie. ’n Moontlike invalshoek is om die preek te begin met Rom 4:24-25. Die bril van die Kruis en Opstanding laat ons anders dink oor regverdiging deur die geloof. In aansluiting by bogenoemde, gee ons teks ons ook ’n kykie in hoe God werk, naamlik, deur genade.

Hoe preek ons in lydingstyd oor hierdie teks?

By die gedenkdiens van prof Flip Theron het sy vriend prof Bram van de Beek die woorde van prof Willie Jonker herhaal, naamlik: “Daarom is ‘deur genade alleen’ nie anders as ‘deur die geloof alleen’ nie” (Theron 2011:136).

Dit gaan nie oor die magtige God wat soos ’n genie al die koeëls afweer wat in ons rigting afgevuur word en gelukkige eindes vir ons verseker nie. Die belofte wat vir ons waar gemaak word, is dat God die goddelose regverdig maak (4:5), uit genade alleen.

Wie ernstig is oor Christus se lyding behoort nie ’n teologie van triomf te ontwikkel nie – een waar alles net regloop vir diegene wat glo. Die bril van lyding maak dit duidelik dat nie net Christus nie, maar ook gelowiges kan ly en swaarkry. Dit neem geloof na ’n plek buite wonderwerksfeer – waarin dit so maklik kan beland. Dit getuig daarvan om die rus te vind in Christus se sterwe en opstanding.

Dit behoort ons sensitief te maak vir hoe ons die woord geloof gebruik wanneer ons met persone en groepe praat wat geen plek het om te bly en kos om te eet nie, of wat lyding ervaar of terminaal siek is.

Daar is die gevaar dat ons ’n soort geloof kan verkondig wat klink asof dit iets is wat mense moet “regkry”. Ons kan geloof maklik los maak van sy Bybelse betekenis en dit begin gebruik op ’n manier wat eerder positiewe denke verkondig.

In lydingstyd behoort ons nog méér sensitief te wees dat die “geregtigheid van die geloof”, soos Paulus dit gebruik, se betekenis ingebed is in die kruisiging en opstanding. Geloof is nie iets selfstandigs wat ons kan besit nie.

Abraham se geloof is ’n genadige geloof. Wanneer ons die Abraham-verhaal lees, is dit nie altyd maklik vir ons om raak te sien en verstaan dat Abraham se geloof so besonders of uitsonderlik was nie. Maar wanneer Paulus daarna kyk, deur die lens van die Kruis en Opstanding, sien hy iets anders raak: ’n Abraham wat deur God begenadig is. Nou word Abraham ’n geloofsheld gemaak – maar dít gebeur nie werklik deur Abraham se eie toedoen nie. Só word ook na ons gekyk deur Christus se geloof, die enigste geloofsheld.

Frederik B O Nel

10/04/2017

Verkorte weergawe verskyn in Woord en Fees,

Preekstudies en Liturgiese Voorstelle

RCL Jaar B 2017-2018, 89-92

Bronne:

Bruce, F.F. 1963. Romans. Tyndale NT Commentary.

Burger, C.W. 1983. Riglyne vir doopprediking. Woord teen die Lig 5, 125-134

Cousar, Charles B. 1993. Texts for Preaching, 206-208

Cranfield, C.E.B. 1975. The Epistle to the Romans Vol 1. The International Critical Commentary

Jonker, W.D. 1976. Die brief aan die Romeine.

Jonker, W.D. en Theron, P.F. 1983. Vreemde geregtigheid. Oor die regverdiging uit genade alleen.

König, Adrio 2017. Paulus

Lekkerkerker. A.F.N. 1978. De brief van Paulus aan de Romeinen, Vol 1

Theron, Flip 2011. God’s geregtigheid en Christus se geloof. Oor die tekens van God se trou

Smit, Dirkie 1998. Geloof sien in die donker.