Markus 10:46-52

Alhoewel die fokus op Markus is in 10:46-52, is dit belangrik om die groter konteks waarbinne hierdie gebeure plaasvind ook in gedagte te hou.

Hierdie verhaal kom by al drie die Sinoptiese evangelieskrywers voor. Die konteks, by al drie, is Jesus se aankondiging dat hy gaan sterwe (10:33-34) en uit die dood gaan opstaan (10:34). Markus 11 gee ‘n beskrywing van sy intog in Jerusalem.

Die Markus-skrywer volg Jesus se aankondiging van sy komende lyding direk op met die versoek van Jakobus en Johannes om aan die regterkant en linkerkant van Jesus te sit wanneer Jesus koning word (10:35-37) en Jesus se reaksie daarop (10:38-440. Vroeër in die hoofstuk (Markus 10), word die vraag van die ryk jongman behandel (10:17-32), en voor dit die uitnodiging aan kindertjies om na Hom te kom en dat hulle nie verhinder moet word nie (10:13-16). Net Markus gee aan die blinde man ’n naam – Bartimeus.[1]

In die Matteus-weergawe is daar sprake van twee blinde mans (20:29-34) en dit vind ook plaas op pad na Jerusalem en direk na Jakobus en Johannes se ma (vrou van Sebedeus) se versoek dat haar seuns aan die regter- en linkerhand van Jesus kan sit. Dit word voorafgegaan deur die gelykenis van die arbeiders in die wingerd. In Lukas (18:35-43) is die blinde man, soos in Markus, ook ’n bedelaar. Lukas gaan ook die perikoop vooraf met die vraag oor die ryk jongman (18:18-29); en vertel ook van Jesus se oproep dat kindertjies nie verhinder moet word om na Hom te kom nie (18:15-17). In Lukas word dit voorafgegaan deur die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar.

In Markus word die perikoop onder bespreking glad nie vooraf gegaan met ’n gelykenis nie. Daar is ook ’n duidelike konstratering tussen die versoek van Jakobus en Johannes en dié van die blinde Bartimeus. Jakobus en Johannes gaan na Jesus met die woorde: “Here ons wil graag hê U moet vir ons doen wat ons U gaan vra.” (10:35). Jesus antwoord dan “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” (10:36) Die twee dissipels stel dan hulle versoek om aan Jesus se linkerkant en regterkant te sit wanneer Hy koning word. Jesus se antwoord is: “Julle weet nie wat julle vra nie.” (10:38)

In teenstelling met die twee dissipels wat eintlik ’n eis stel, roep die blinde bedelaar uit “… ontferm U tog oor my”. Jesus se vraag aan die blinde bedelaar was dieselfde as aan die twee dissipels: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen”? (10:50). Jesus se antwoord aan die bedelaar is egter baie verskillend: “Jy kan maar gaan. Jou geloof het jou gered.”

In kort: Die dissipels wil gesien word (status), maar Bartimeus wil kan sien.

Die genesing van Bartimeus is die tweede verhaal wat Markus vertel van die genesing van ’n blinde (lees van die blinde man by Betsaida in Markus 8:22-25).[2] Bartimeus se genesing volg op die derde aankondiging van Jesus dat hy gaan sterf (8:31-33; 9:30-32; 10:32-34) en is sy laaste wonderwerk voordat hy Jerusalem binnegaan.

Alle aanduidings is dat daar meer gelees moet word in hierdie verhaal as net nog ’n genesingswonder. Die dissipels en volgelinge blyk nie te verstaan wat Jesus sê nie – hulle kan sien, maar is eintlik blind.

Markus teken vir ons ’n prentjie van ’n “blinde” skare: hulle sien nie wat die fisiek blinde wel verstaan nie. Hulle volg wel Jesus, maar hulle verstaan nie waarom dit gaan nie. Hulle sien nie raak dat Hy op sy lydingspad is, op pad om sy lewe vir hulle te gaan aflê nie, en dat Hy juis op hierdie pad genade en barmhartigheid moet vertoon omdat dit bevestig wat Hy gekom het om te doen. Vir Jesus gaan lyding, as die pad om ’n losprys te betaal, hand aan hand met barmhartigheid as skepping van nuwe lewensmoontlikhede en lewensruimte.

Hier teenoor word die fisiek blinde voorgestel as ‘n “sienende” blinde. Die blinde man is  ‘n randpersoon en sonder aansien. Hy volg nie Jesus nie, maar hy verstaan dat Jesus barmhartig is. Die skare lê hom eers die swye op, maar hy hou aan met roep: “Jesus seun van Dawid ontferm U oor my.”

Bartimeus se uitroep aan Jesus as “Seun van Dawid”[3] gee uitdrukking daaraan dat hy Jesus as koning sien. Die wil voorkom of die blinde Bartimeus se slegte omstandighede hom gehelp het om te kon raaksien dat Jesus se koningskap deur lyding heen geskied. Die een sonder hoop en hulp blyk die een te wees wat verstaan en wat kan sien (vgl Mocke 2008-2009:272).

Die feesvierende navolgers is eerder gefokus op Jesus se komende (aardse) koningskap, as op sy komende lyding (Botha 1992:19). Dit is asof hulle blind was en nie kon sien waaroor die koninkryk van God werklik gaan nie, of dat Jesus se opdrag is om, as die Seun van God,  deur God gestuur, die evangelie van armes, die vrylating van gevangenes en die genadejaar van die Here, te verkondig.

Jesus gee dan die bevel dat die blinde nader geroep word. Die skare se stemming begin verander. Kort tevore het hulle Bartimeus gevra om stil te bly maar nou begin hulle gesindheid verander. Miskien sou ons kan sê hulle begin om te sien – hulle begin vir die blinde sê: hou moed, staan op, Hy roep jou.

Nie die wonderwerk as sulks nie, maar die feit dat iemand wat ‘n verstotene was en aanspraak maak op God se genade en barmhartigheid en dit ontvang, is die sentrale boodskap van die gebeure. Nie die blinde wat weer kan sien nie, maar die boodskap aan die blinde skare, wat ten spyte daarvan dat Hy op sy lydingsweg was, nie verstaan het nie dat God barmhartig is – is die kern van hierdie gedeelte. Die blinde self ontvang barmhartigheid van Jesus en sy reaksie daarop, volgens Markus, was om te begin om Jeus te volg op sy lydingsweg na die kruis.

Die verhaal vertel vir ons iets van Jesus self ook – die een wat die blinde, die bedelaar, die randfiguur, raaksien. Vroeër in die hoofstuk versoek Jesus dat die kinders nie verhinder moet word om na hom te kom nie, hier word die skare gevra om nie die randfiguur, die bedelaar te verhoed om na hom te kom nie.

Jesus sê “Jou geloof het jou gered”. Dit word nie van die dissipels en die skare wat hom volg gesê nie. Op die oog af is hulle die ware gelowiges wat agter hom aan na Jerusalem beweeg. Hulle is vol afwagting van en geloof in dit wat gaan gebeur, maar miskien is dit juis hier waar die verskil is. Hulle is in positiewe afwagting daarvan dat die koning aangekondig gaan word, dat iets groots gaan gebeur waarin hulle gaan deel hê, maar hulle was blind vir die besef dat die pad van die kruis nog eers geloop moet word. Hulle was oortuig daarvan dat die oorwining vir Jesus en die Godsryk om die draai was en moontlik so gefikseer op die oorwinning wat voorlê en hulle status in die Godsryk, dat hulle die lydende wêreld nie kon raaksien nie.

Wat hulle nie kon raaksien nie, was dat dit ’n gebroke oorwinning gaan wees (Muller 1992:130). Hul “blindheid” was om te fokus op ’n lynreg ongebroke verheerliking van Jesus se verheerliking. Hulle het die lydensweg na die ryk van God nie werklik begryp nie. Dit was nie brute ongeloof nie, dit was net dat die volheid van die kruis net nie so sterk gefunksioneer het as die oorwinning nie.

Dit is hier waar die teks ons vandag nog kom konfronteer. Al kan ons terugkyk na die gebeure in Jerusalem en met mekaar praat oor kruisiging en opstanding, is ons ook in gevaar om ’n triomfantlike geloof te ontwikkel wat net op die golf van oorwinning, die leë graf en die wederkoms ry.

Die boodskap waarmee ons daagliks gekonfronteer word is eintlik die boodskap van sukses, en hoe om suksesvol te wees. Kerke met ’n triomfantelike teologie trek ook groot hoeveelhede mense. Ons getuig ook graag van sukses, genesings en oorwinnings. Dit is soms baie moeilik om die stem van die kruis te hoor, dat, ten spyte van die Koning se oorwinning, ons nog steeds deel het aan mislukkings, siekte, pyn, ellende, armoede en verdrukking.

Ek hoor hierdie triomftog dikwels in woorde soos: “Jy moet net glo, dan sal alles regkom”. Dan word geloof maklik ’n triomftog. Iets wat bereik moet word. Bartimeus se geloof is iets anders – dit is die nulpunt van enige prestasie. Dit is totale oorgawe aan die hande van die Seun van Dawid. Hy los sy belangrikste besitting (sy bokleed of mantel) net daar om na Jesus te gaan, in kontras met die ryk man, vroeër in die hoofstuk, wat hom nie kon losmaak van sy besittings nie. Dit is nie die grootheid (of grootsheid) van sy geloof wat die verskil maak nie, maar sy oproep op die ontferming van God. Die Matteus-evangelie (wat na twee blindes verwys) het nie hierdie verwysing na geloof nie, maar verwys na Jesus se hart. “Hulle (die twee blindes) sê toe vir Hom: “Here, dat ons oë oopgaan”. Jesus het hulle innig jammer gekry en hulle oë aangeraak.” (Mat 20:33-34).

Dit is natuurlik nie verkeerd van ons om aan Christus se lyding en sterwe te dink vanuit wat dit vir ons bereik het nie, naamlik verlossing en versoening met God. Ons kan natuurlik vanuit die vrug van die kruis lewe. Maar dit is nie waar dit ophou nie. Dit betrek ook ons in ons eie lyding en in die lyding van die kosmos. Ons en die hele skepping is nog op pad. Ons is ook deelgenote op die pad van lyding, met Christus, wat die pad klaar geloop het, aan ons sy. Ons moet ook langs die pad sterf soos die koringkorrel, en ons deelname aan die nagmaal getuig nie net van die oorwinning en die opstanding nie, maar ook van ons deelname aan die sterwe en opstanding van Christus.

Die verhaal noop ons tog om nog twee ander opmerkings te maak, aangesien dit telkens deur hierdie wonderverhale opgeroep word.

Jesus se wonders is nie maar bloot “miracles” of tekens van kragvertoon nie. Dit is wel ‘n teken – maar ‘n teken van die koningkryk van God wat onder die mense opgerig word. Wanneer die koninkryk voltooi word by die wederkoms van Christus, sal ook al die tekens tot volle vervulling kom. Nou is dit enkele wonders wat vooruitwys na die voleinding, dan sal alle siekte, lyding en dood verdwyn. Jesus genees nie nou alle siekes en wek nie alle dooies op nie. Daar kom ‘n tyd dat dit wel sal gebeur. Daarheen wys die tekens wat Hy nou oprig.

Trouens, ons het geen aanduiding dat Jesus al die siekes genees het in sy omwandelinge op aarde of al die dooies opgewek het nie. Die evangelieskrywers gee ons net enkele voorbeelde – en dan is die wonderwerk dikwels nie eers die sentrale deel van die verhaal nie.

Daar moet ook aandag gegee word aan die woorde: “Jou geloof het jou gered”. Dikwels word dit deur mense verstaan asof so ‘n uitspraak oor die grootte van iemand se geloof gaan. Daar word dan geredeneer dat, indien iemand se geloof “groot” genoeg is, dan kan hierdie wonder plaasvind. Indien hierdie wonder nie plaasvind nie, is iemand se geloof dan sogenaamd te klein of nie groot genoeg nie.

Ons geloof is nie ons kragspier of die hefboom waarmee ons God kan forseer om bepaalde resultate te lewer nie. Geloof is nie ons goeie daad waarmee ons God se arm draai om aan ons eise te voldoen nie. Geloof is die handeling waardeur u en ek in ons goeie en voorspoedige dae en in ons siekte, lyding en nood, vanuit menslike onmag, vasgryp aan die barmhartige hand van God. Die Bybel hou selfs vir ons voor dat die uitroep van die man – Here kom my ongeloof te hulp – ‘n geloofshandeling was.

SLOTSOM: Eerder as wat hierdie verhaal van die blinde seun van Timeus oor geloofsgenesing handel, gaan dit meer oor God se barmhartigheid. Die barmhartigheid word dikwels nie raakgesien deur dié wat hom volg nie, maar eerder deur dié wat in nood is en vir wie die lewe uitsigloos is. Dié wat soms langs die pad van die lewe sit, by wie ons so maklik verbystap, maar wat die God van ontferming aansien vir wie Hy regtig is, naamlik die Messias.

Deur ag te slaan op dié wat langs die pad sit, kan ons vandag ook miskien ons oë weer laat oopgaan en die Messias werklik herken. Want wat die dissipels en ander volgelinge nie verstaan het nie, het die weerlose  blinde  verstaan.

Markus 10:46-52 (32-52)

Frederik B O Nel

Bibliografie

Barnard, A C & Müller, B A 1987. Markus 10:46-52, in Woord teen die Lig II/2, 268-273

Botha, Theunis 1992. “Om te kan sien”, in Genade vir die nederiges – ’n Preekbunderl (Red Thys Smith), 19-24

Mocke, Anton 2008-2009. Markus 10:46-52, in Preekstudie met liturgiese voorstelle gebaseer op die kerkjaar 2008-2009, 270-272

Müller, B A 1992. Markus 10:32-45, in Woord teen die Lig 1/8, 128-139

Van Niekerk, Anton A 1994. Tussen wanhoop en vreugde: Meditasies oor twyfel, feilbaarheid en vreugde in ’n tyd van onsekerheid. Kaapstad: Lux Verbi

[1] Die naam Bartimeus, seun van Timeus, het in Grieks die betekenis van “seun van eer” en in Hebreeus die betekenis “seun van die onreine”. Griekse en Hebreeuse hoorders kon dus totaal teenoorgestelde gevolgtrekkings maak tov die benaming.

[2] Daar is aanduidings dat Markus probeer om korrelasies te maak tussen Jesus en Jesaja. Jesaja 35:5 “ Blindes sal kan sien, dowes sal kan hoor, 6 lammes sal kan rondspring soos takbokke, stommes sal kan sing.”

[3] Hierdie uitdrukking is vreemd aan die Evangelie van Markus, terwyl dit dikwels in die Matteus-evangelie voorkom.