Lukas 15:11-31

Die wagtende vader

Laingsburg NGK, 22 Oktober 2017

1       Teks:

11  Verder het Jesus gesê: “Daar was ’n man wat twee seuns gehad het.

12  “Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.

13  “Nie lank daarna nie het die jongste seun alles tot geld gemaak en van die ouerhuis af na ’n ver land toe vertrek. Daar het hy sy geld verkwis deur losbandig te lewe.

14  “Nadat hy alles deurgebring het, het daar ’n kwaai hongersnood in daardie land gekom, en ook hy het begin gebrek ly.

15  “Hy het toe sommer by een van die mense van daardie land gaan bly, en dié het hom na sy plaas toe gestuur om varke op te pas.

16  “Daar het hy gewens hy kon sy honger stil met die peule wat die varke eet, maar niemand het hom daarvan gegee nie.

17  “Toe kom hy tot inkeer en sê: ‘My pa het wie weet hoeveel dagloners, en hulle het almal oorgenoeg kos, en hier vergaan ek van die honger.

18  ‘Ek sal dadelik na my pa toe teruggaan en vir hom sê: Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig!

19  ‘Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie. Behandel my soos een van Pa se dagloners.’

20  “En hy het sonder versuim na sy pa toe teruggegaan. Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.

21  “Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ {Sommige manuskripte voeg by: ‘Behandel my soos een van Pa se dagloners.’, vgl. 15:19}

22  “Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom ’n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan!

23  ‘En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier!

24 ‘Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

25  “Sy oudste seun was nog in die veld. Toe hy terugkom en naby die huis was, hoor hy die musiek en die singery. 26  Hy roep toe een van die bediendes nader en vra hom wat aan die gang is. 27 Die bediende antwoord: ‘U broer het gekom, en u pa het die vetgemaakte kalf geslag omdat hy hom behoue en gesond teruggekry het.’

28  “Toe het die oudste seun kwaad geword en hy wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom;  29  maar hy antwoord: ‘Kyk, al die jare werk ek soos ’n slaaf vir Pa. Nog nooit het ek ’n opdrag van Pa verontagsaam nie, en vir my het Pa nog nooit eers ’n bokkie gegee sodat ek saam met my vriende kan feesvier nie. 30  Maar nou dat hierdie seun van Pa, wat Pa se goed met prostitute deurgebring het, terugkom, het Pa vir hom die vetgemaakte kalf geslag!’

31  “Toe sê die pa vir hom: ‘Kind, jy is altyd by my, en alles wat ek het, is ook joune. 32  Maar ons kan tog nie anders as om fees te vier en bly te wees nie, want hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ons het hom teruggekry.”  Lukas 15 (AFR 1983)

2        Inleidende Eksegetiese opmerking

Die drie gelykenisse in Lk 15 word geopen met die woorde (1-3):

1 Die tollenaars en sondaars het almal die gewoonte gehad om na Jesus te kom luister. 2 Hierteen het die Fariseërs en die skrifgeleerdes beswaar gemaak en gesê: “Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle.” 3 Toe vertel Jesus vir hulle hierdie gelykenis:

Die beskuldiging dat Hy saam met hulle “eet” is belangrik want “eet” staan vir gemeenskap, vergifnis, aanvaarding, genade en solidariteit (Smit 1987:167).

Lk 15.12-32 hang ten nouste saam met die ander gelykenisse in Lk 15. Jesus vertel hierdie gelykenisse aan die randfigure wat na hom kom luister, maar ook met die doel dat die Fariseërs en skrifgeleerdes dit kon hoor. Daar is ’n gemeenskaplike draad wat deur die drie gelykenisse loop. Iets wat verlore was, is weer gevind. In 15.6 is die skaap wat weg was weer gevind; in 15.9 is die muntstuk weer gevind en in 15.24 is die seun weer gevind.

Daar is ook ’n ontwikkelingsgang tussen die drie gelykenisse. In die eerste is die skaap een uit 100 wat weer gevind is; die muntstuk is een uit tien; en die seun is een uit twee. Die tema van blydskap (in die hemel en onder die engele) speel ook pertinent ’n rol (15:6-7; 10), maar kulmineer dan verder in feesviering hier op aarde (15:23-24), in die teenwoordigheid van die vader. Daar is ’n opbou tot die derde gelykenis. God se teenwoordigheid, in Christus Jesus gee rede vir feesviering.

In Lk 15.12-32 gaan dit om twee seuns wat elk op sy eie manier van die Vader vervreemd geraak het. Ongelukkig is die opskrif bo-aan die gedeelte misleidend en dink mense net aan een van die seuns wanneer hulle die verhaal lees. A. B. du Toit (1987:161-162) beskryf dit so: “Ons gebruiklike opskrifte en benamings vir hierdie gelykenisse trek hulle tema skeef en vestig die aandag op die verlorenes ten koste van God wie se liefde in Christus sigbaar geword het. Daarom moet 11-32 se tema veel eerder lui: Die gelykenis van die liefhebbende vader en sy twee seuns.”

Omdat dit ’n gelykenis is moet ’n mens met interpretasie van detail versigtig omgaan om nie die teologiese moment van die verhaal te mis nie. In die verhaal self word nooit gesê dat die “pa” God is nie. Dit is wel se dat ons verstaan dat die vader in die gelykenis vir God voorstel, maar omdat Jesus die verhaal self vertel, dui dit daarop dat Jesus vir die luisteraars vir wil vertel wie Hy self is; hoe Sy hart klop.

Vir ’n Jood moes dit baie moeilik gewees het om varke op te pas. Die peule waarna verwys word is waarskynlik die peule van die Karobboom wat deur diere en mense geeet is, maar dit was die voedsel van die allerarmstes. Vir die vader om aangehardloop te kom is nogal buitegewoon en is as onwaardig beskou in daardie kultuur; en dan sinspeel dit boonop op God (Smit). Die soen is ’n teken van liefde, aanvaarding en vergifnis (vgl 2 Sam 14:33) (Du Toit 1987:162).

3     Preek

Müller, in verwysing na James Price, wys daarop dat daar baie hoeke is waaruit hierdie gelykenis benader kan word. “Like an exquisite diamond, flashes of light and colour are seen when it is examined closely” (aangehaal deur Müller 1987:163). Ek kies om te preek oor die vader, eerder as oor die jongste of die oudste seun. Die oorgrote meerderheid van moderne eksegete stem saam dat die sentrale tema in die gelykenis handel oor God en dat ons eintlik nie anders kan as om dit teosentries en Christosentries te verklaar nie (Müller 1987:163). Daarom dan ook dat die vader in die verhaal verstaan word as die Vader van Jesus Christus en soms as Christus self.

Dit gaan hier oor die wagtende Vader – (waiting father).[1] Die Vader is op die uitkyk vir wanneer die seun sal terugkom en hardloop die seun tegemoet. Wat ons hier kry, is ’n kykie in die hart van God – só is God (Smit 1987:166-167). God is begaan oor ons en ons lot, ons pyn, ons worstelinge, onsekerhede, twyfel en selfs ons opstand teen God raak God.

Hierdie Godsbeeld word in die gelykenis self gestel as die teenpool van die Godsbeeld van die Fariseërs en die skrifgeleerdes (15:1-3). Van Niekerk (1994:86) trek ’n anologie tussen die Godsbeeld van die Fariseërs en die skrifgeleerdes en die Godsbeeld van Job se vriende. Hulle het in hulle denkskema reguit lyne getrek tussen dit wat ons vir God kan aanbied en God se gesindheid teenoor ons. Hoe meer jy Hom aanbied hoe meer sal Hy gee (Van Niekerk).

In hierdie gelykenis is Jesus besig om loodreg teenoor bogenoemde denke te reageer en ’n ander beeld van die Vaderhart aan sy volgelinge te verkondig.

Dit is vanuit hierdie Godsbeeld en natuurlik ook vanuit die menswording, kruisiging en opstanding dat ek ’n paar bykomende gedagtes oor hoop wil opper.

Volgens Jurgens Moltmann (soos aangehaal deur Conradie 2000:350, voetnota 150) kan ons hoop nie gevind word in dit waarvoor ons wens nie, maar in die feit dat daar iemand is wat vir ons uitkyk, wat wag vir ons, wat vir ons nog ’n kans wil gee. Ons kan byvoeg, wat vir ons wil intree.

Christelike hoop kan net vanuit genade gebore word en deur genade in stand gehou word. Daar waar ons genadig is teenoor mekaar; teenoor die vreemdeling; teenoor die skepping; daar is ons besig om bakens van hoop op te rig, en kry ons self ook hoop. Dade en gesindhede wat getuig van genade skep hoop, beide vir die ontvanger en vir die een wat genadig optree. Die oudste seun, alhoewel hy alles reg doen, lyk of hy sonder genade was en dus ook sonder hoop was.

Christelike hoop het dus vanselfsprekend te doen met aksies van liefde, gewortel in God se liefde vir ons. Ons weet dat daar nie te min liefde is om te deel met ander nie. God se genade is nie soos ons watertenke wat leegword as dit nie reën nie.

Christelike hoop hou vas aan beide die “alreeds” en die “nog nie”. Christus se oorwinning oor die dood word gevier, wetende dat die magte van die bose nog nie vernietig is nie.

Christelike hoop is bereid om ook groter te droom as net die konkrete; dit wat moontlik lyk. Dit is geïnfekteer deur die beloftes dat God klaar in Christus en deur sy Gees besig is om nuut te maak. Dit is om saam met die profete te droom van die eskatologiese dag (Jes 11 OAV:

6 Wolwe en skape sal dan saam bly, luiperds sal tussen bokkies lê, kalwers, leeus en voerbeeste sal bymekaar wees en klein seuntjies sal vir almal sorg. 7 Koeie en bere sal saam wei, hulle kleintjies sal bymekaar lê, leeus sal gras eet soos beeste. 8 Babatjies sal by die gate van adders speel, klein kindertjies sal hulle hande uitsteek na giftige slange.

Ons droom almal van die dag wat in Jesaja 2:4 geprofiteer word:

Hulle sal van hulle swaarde ploegskare smee en van hulle spiese snoeiskêre. Die een nasie sal nie meer die swaard teen die ander opneem nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te maak nie

Christelike hoop stook eerder vuur onder ons verbeelding as om dit te verlam (Breugemann). Hierdie drome vind plaas terwyl ons weet dat ons leef in die spanningsveld van die alreeds en die nog nie.

Christelike hoop is altyd op die uitkyk om nie vas te val in absolutes en deterministiese denke nie. Wat verstaan word is dat God deur sy Gees aan die werk is en dat dit nie ingeboks kan word in eenvoudige absolutes nie.

Christelike hoop is ook te vind in dade van weerstand teen dit wat nie reg is nie. Dit kan nie maar net ’n passiewe en fatalistiese terugsit wees in die hoop dat dinge vanself sal verander nie. Conradie (2000:385) gee die volgende aanhaling van Moltmann:

That is why faith, wherever it develops into hope, causes not rest but unrest, not patience but impatience. It does not calm the unquiet heart of man. Those who hope in Christ can no longer put up with reality as it is, but begin to suffer under it, to contradict it.

Christelike hoop is nie dieselfde as maar net optimisme en positiewe denke nie. Positiewe denke is gewortel daarin dat alles maar net beter moet gaan. Positiewe denke dink vanuit groei, ontwikkeling, progressie en voorspoed. Christelike hoop is nie pessimisties nie, maar dit maak nie kruis en opstanding los van mekaar nie. Dit kan raaksien hoe God vanuit die kruis en die dood iets nuuts tot stand kan bring, soos die koringkorrel wat eers moet sterf voordat dit kan ontkiem.

Dit beteken dat die Christelike hoop baie diep bewus is van die swaarkry en lyding in hierdie wêreld en dat mens, dier en die hele skepping sug (Rom 8), maar terselfdertyd sug in verwagting vir tekens van die koninkryk wat soos gras na ’n reënbui deur die harde grond opslaan.

Christelike hoop gaan dus nie met oogklappe deur die lewe nie, maar is nederig soekend na nuwe tekens van lewe te midde van doodsheid. Hierdie is nie ’n valse optimisme nie, maar is ’n hoop gegrond in God se beloftes dat Hy alles wel sal nuut maak.

Omdat hoop nie sonder genade gevind kan word nie, kom Christelike hoop juis na vore ten spyte van lyding. Nie om antwoorde te verskaf vir die lyding nie, maar omdat dit bereid is om genade uit te deel en genade raak te sien, en ook om genade te aanvaar.

Deur die eeue is daar dan ook daarop gewys dat die gelowige se hoop eintlik verdiep in tye van lyding en wanneer dit lyk of die magte van die bose die oorhand wil kry. Terwyl ons die “nog nie” ervaar, weet ons van die “alreeds”

Om op te som: Christelike hoop is gevestig in ’n Godsbeeld van ’n Vader wat wag vir ons, wat op die uitkyk is vir ons, wat saam met ons in lyding en swaarkry is en wat deur sy Gees van ons, te midde van lyding en swaarkry, nuwe mense wil maak, dag vir dag.

Amen

Frederik B O Nel

Oktober 2017; NGK

4     Bronne

Bezuidenhout, Ronell 2015. Woestynwysheid: Ervaar God opnuut. Lux Verbi

Cilliers, Johan 1998. “Verlore … Gevind … Gevier” in Korrels van die Koninkryk: Grepe uit die Gelykenisse van Jesus, 23-27

Conradie, Ernst M 2000. Hope for the Earth: Vistas on a New Century. Text and Context 8. University of the Western Cape

Du Toit, A B; B A Müller; D J Smit 1987. “Lukas 15.11-32”, in Woord teen die Lig II/2, Riglyne vir Prediking oor die Gelykenisse en Wonderverhale, 161-169

Groenewald, E P 1975. In Gelykenisse het Hy Geleer, 179-196

Morris, Leon 1974. The Gospel According to St Luke. Tyndale NT Commentaries

Moltmann, Jürgen 1974. The Crucified God: The Cross of Christ as the Foundation and Criticism of Christian Theology. SCM Press

Scheffer, E H 1991. Die teologie van die Lukasevangelie in konteks: Bevryding en lyding, in Teologie in Konteks (Red Roberts J H e.a), 62-92

Smit, Dirkie 2000. Want God is ons hoop: Bybelse meditasies in ’n verwarrende tyd. Lux Verbi

Van Niekerk, Anton A 1994. Tussen wanhoop en vreugde: Meditasies oor twyfel, feilbaarheid en vreugde in ’n tyd van onsekerheid. Lux Verb

[1] Van Niekerk (1994:86); Conradie (2000:350) verwys na Jürgen Moltmann; Smit (1987:167) verwys na Helmuth Thielicke.