2 Petrus 1:16-21

 

1       Inleiding en teks

Daar is onsekerheid of Petrus self die boek 2 Petrus geskryf het weens die groot verskille tussen 1 en 2 Petrus in taal, styl en woordgebruik. ‘n Sterk moontlikheid bestaan dat die geskrif neergepen is deur ’n sekretaris. In terme van temas is daar wel sterk ooreenkomste tussen 1 en 2 Petrus. Die styl van die geskrif maak dat sommige dit as ’n brief, ander as ’n preek, of selfs as ’n laaste testament, beskryf. Dit is moontlik in 67-69 nC in Rome geskryf –voor die vernietiging in 70 nC van die tempel in Jerusalem. Daar is duidelike ooreenkomste met die brief van Judas wat iewers tussen 55-65 nC tot stand gekom het en ook deur sommige as eerder ’n preek of kommentaar as ’n brief beskou word.

Die vermoede is dat 2 Petrus 10 tot 13 jaar later as 1 Petrus geskryf is en dat baie van die lesers uit die tweede geslag Christene bestaan het. Nie net vervolging nie, maar ook die kwessie van dwaalleringe was ’n werklikheid waarmee die gemeentes gekonfronteer is.

Vers 16: Die “ons” verwys na die apostels, en kontrasteer met die “ek” in vers 12. Daarmee bevestig Petrus weer sy outoriteit. Die verwysing in die oorspronklike na muthois (mites) wat slim ontwerp is (sesofismenois – partisipium), is duidelik ’n hou na ander stemme waaraan die lesers/luisteraars blootgestel is. Die werkwoord gnōrizein is ’n tegniese woord in die NT (Luk 2:15; Joh 15:15; Rom 16:26; Ef 6:19; Kol 1:27) wat dui op die bekendmaking van goddelike misterie. Die woorde “dunamin kai parousian” is ’n uitdrukking wat dui op die krag van die opstanding en die wederkoms. Die woord “parousia” beteken letterlik “teenwoordigheid” en was ’n sakrale woord in die Hellenisme wat deur die Hellenistiese Jodedom oorgeneem is. Die Christen skrywers gebruik die woord tegnies om na die wederkoms te verwys. Terwyl daar wel diegene is wat argumenteer dat dit na Christus se eerste koms en aardse bediening kan verwys, is die algemene oortuiging dat die woord hier in sy algemene gebruik in die NT verstaan moet word. Dit sluit ook beter aan by die voorafgaande gedeelte wat reeds die tema van die wederkoms aanraak. Die NAV vertaal dan ook die woord met “wederkoms”, terwyl die OAV dit letterlik met “koms” vertaal. Die Direkte Vertaling vertaal die uitdrukking as “kragtige teenwoordigheid”.

Die gebruik van die woord epoptai (ooggetuies) is waarskynlik ook nie so onskuldig nie. In die misterie-godsdienste dui dit op diegene wat bevoorreg is om dieper te kan sien in die goddelike openbaring. Dit is die enigste plek in die NT waar die woord in dié vorm gebruik word. (Alhoewel in 1 Petrus 2:12; 3:2 die woord epopteuontes gebruik word).

Verse 17-18: Die woorde timēn kai doksan, eer en heerlikheid, is ’n algemene uitdrukking (Ps 8:5 – Heb 2:7 & 9; Rom 2:7 & 10; 1 Tim 1:17; 1 Pet 1:7; Openb 4:9). Dit dui op die verhoging en uitstraling van ’n besondere glans. Dit is ’n heenwyse na God die Vader en gaan saam met die majesteit van God (1 Pet 1:7; Judas 25). Majesteit was een van die benaminge van God in die OT (Lev 3:4). 1 Petrus gebruik hier hoofsaaklik die Matteus-beskrywing (17:5) van die Verheerliking van Jesus op die berg. 1 Petrus beskryf dit as ’n heilige berg, terwyl die Evangelieskrywers net praat van ’n “hoë berg”. Psalm 2:6 verwys na Sion as die heilige berg waar die koning gesalf word.

Vers 19: Die “ons” verwys nou na die gelowiges en nie net na die dissipels nie. Die “profetiese woord” behoort hier verstaan te word as ’n verwysing na die hele OT en nie net na die profete – soos die NAV moontlik verstaan kan word – nie. Hierdie OT geskrifte moet dus skyn soos ’n lamp in ’n donker plek (vgl Ps 119:105). Die “donker plek” (auchmērō topō) is ’n verwysing na die wêreld soos dit nou is en wat nog steeds in afwagting is dat Christus sal kom (Joh 1:5; Ef 6:12; 1 Thes 5:4; 1 Joh 2:8). Die dag wat aanbreek is die wederkoms (parousia) (vgl Rom 13:12). Daar is ’n vreemdheid in die verwysing na die “môrester” (fōsforos) – die verwagting is eerder dat die opkoms van die son die nuwe dag sal aandui. Indien hierdie egter as ’n verdere uitbreiding gelees word kan die môrester verstaan word as ’n verwysing na Christus (Num 24:17; Luk 1:78; Openb 22:16). “This clause must be a pictorial description of the way in which … Christ will dissipate the doubt and uncertainty by which their hearts are meanwhile beclouded and will fill them with a marvellous illumination … The Parousia is conceived of as having a transforming effect in the hearts of faithful believers” (Kelly 1969:323).

Vers 20: Soos elders in die NT, verwys grafēs (skrif) hier na die OT. Die vertaling van epiluseōs is nie sonder problematiek nie. Die woord verskyn in hierdie vorm net hier en in die LXX. Die werkwoord epiluein verwys na die bekendmaking van valse waarhede of die uitleg van raaisels, drome of gelykenisse. Die mees aanvaarde vertaling is dan “uitleg” of “interpretasie”. Die betekenis daarvan is dan ook om weer die apostoliese outoriteit te kontrasteer met die dwaalleraars wat hul eie interpretasie gee.

Vers 21: Kontrasteer dan die voorafgaande. Dit is nie deur eie interpretasie nie, maar net deur die werk van die Heilige Gees dat egte woorde gespreek kan word. Dit sluit ook aan by die OT boodskap (Jer 1:4-10; 23:16; Esek 13:3), wat onderskei tussen ware en valse profete. Hierdie tema word dan ook voorgesit in 1 Petrus 2:1.

2       Konteks

Dwaalleraars skep onsekerheid by die lesers/luisteraars. Nie net ten opsigte van leefstyl nie maar ook ten opsigte van die koms van die Here Jesus Christus. Die vraag oor die werklikheid en gesag van Christus is ook ter sprake. Die lesers word aangeraai om die getuienis van Petrus te glo en dit word dan deur verdere argumentasie bevestig.

Dit is Petrus se laaste getuienis (1:12-15) en behoort geglo te word. Dit moet verstaan word in die lig daarvan dat iemand teen die einde van sy lewe net die waarheid sal praat. Dit hou geen voordeel meer in om onwaarhede te praat nie. Petrus getuig dat hy ’n ooggetuie was (1:16-19). ’n Ooggetuie is beskou as die heel beste getuie. Petrus beroep hom daarop dat, soos die Skrif (OT), hy ook deur die werk van die Heilige Gees ’n geïnspireerde getuie is (1:20-21).

Petrus maak dit duidelik dat hy vanuit eie ervaring praat wanneer hy vir hulle vertel van die gesag van Christus. Dit wat hy sê is nie die gevolg van enige storie nie. Hy was daar toe die stem vir Jesus Christus verheerlik het. Vir Petrus sluit dit aan by die boodskap van die profete wat soos ’n lig in die donkerte skyn. Christus self breek deur in die harte van die gelowiges soos ’n môrester. Daar moet ’n onderskeid gemaak word tussen dit wat die werk van die Heilige Gees is en diegene wat hul eie verdigsels opmaak.

Terwyl die gesagvolheid van dit waarvan Petrus getuig bevestig word in die perikoop, kom daar ook ’n ander element by, naamlik die verheerliking van Christus. Dit is die enigste plek in die NT buiten die Sinoptiese Evangelies (Mat 17:1-13; Mrk 9:2-13; Luk 9:28-36) waar daarna verwys word.

Hierdie verheerliking op die berg word gesien as ’n verwysing na die koms van Christus in heerlikheid by die voleinding. Sommige verklaarders stel vrae oor die gebruik van die  Verheerlikingsverhaal deur Petrus, eerder as byvoorbeeld die opstandingsverhaal. E Käsemann meen dit is omdat die Verheerliking meer inklusief is. Die opstanding verwys net na Christus, terwyl die dissipels deel is van die Verheerliking op die berg. Die lesers kan dus beter daarmee assosieer. A Loisy meen dat Petrus die Verheerliking behandel asof dit ’n na-opstandingsgebeurtenis is.

3       Prediking

  1. Gee ’n sekere konteks:

Dit is ’n skrywe met ’n ernstige appèl want dit is die laaste woorde voor die skrywer se verwagte dood (1:14). Hy skrywe in ’n konteks waar daar vals leraars is wat mense aanmoedig om te leef soos wat hulle lus het (2:12-19) en die spot dryf met die wederkoms wat nog nie plaasgevind het nie (3:4).

  1. Die wederkoms (teenoor die dwaalleraars)

Dit is die sentrale punt van hierdie perikoop. Dit is te verstane dat, vir iemand wat daarvan bewus is dat hy self binnekort gaan sterf, die wederkoms (parousia) wel van kardinale belang is. Hierdie verwagting word dan aan die lesers oorgedra (1:16). Die wederkoms is nie net maar ’n verdigsel/ versinsel/ fabel/ legende nie.

  1. Bevestiging van die egtheid

Die skrywer was ’n ooggetuie van wat gebeur het met die Verheerliking van Christus op die heilige berg (Mat 17). Hierdie Verheerlikingsgebeure word dan die bewysplaas van die wederkoms. Die skrywer was self daar.

Daar is ook ander bronne van bevestiging wat die lesers en die skrywer deel, naamlik die Ou Testament-geskrifte. Hierdie getuienis is soos ’n lig wat die leser begelei tot die dag van die wederkoms aanbreek. Daardie dag sal Christus soos ’n môrester deurbreek in die harte van mense.

  1. Geskrifte (teenoor die dwaalleraars)

Die lesers moet verstaan dat daar mense is wat dinge maar net vanuit hulle eie gesag (teenoor God se wil) uitspreek. Dit kan nie vergelyk word met die Geskrifte wat tot stand gekom het deur die wil (gesag) van God en die werking van die Heilige Gees nie.

  1. Petrus en die Verheerliking op die berg (Transfiguration)

Die teks is bedoel om tydens die Sondag van Verheerliking gepreek te word, ’n week voor die eerste Lydensondag . Dit sou makliker gewees het om net uit een van die evangelies te preek op hierdie Sondag. Die uitdaging is om wel aan die Petrus-teks reg te laat geskied gegewe die spesifieke Sondag.

  1. Verheerliking en wederkoms. Die Verheerliking op die berg word deur die kommentare gesien as ’n heenwyse na die wederkoms van Christus. Christus se verheerliking is ’n bevestiging deur God van dit wat nog gaan kom.
  2. Die Verheerliking skep hoop. Die gebeure op die berg moes vir die dissipels (en vir Jesus?) bevestiging en ondersteuning gee in die tyd van lyding wat sou voorlê. Dit blyk dat dit vir Petrus, hier kort voor sy dood, sin maak om hierdie gebeurtenis in herinnering te roep veral waar sy lesers bedreig word deur valse leraars in hulle midde. Hierdie in-herinnering-bring skep hoop.

Jan Woest het in sy artikel “Does the Holy Spirit really help us to understand the Bible?” (in Living Theology 2011:147-158), die rol van verbeelding (imagination) in die werksaamheid van die Heilige Gees beskryf. “Imagination is thus futuristic in its direction and functions as the channel through which hope enters our human existence” (Woest 2011:154).

Verbeelding is hier nie “pie in the sky” nie, dit is gegrond op die werklike gebeure van die verlede. Die lesers word by hierdie gebeure ingetrek en behoort daardeur moed te skep.

  1. Die belangrikheid van die regte fokus. Die Direkte Vertaling vertaal ’n deel van vers 19 as volg: “Julle doen die regte ding as julle daarop fokus …” Natuurlik baat alles niks indien die hoorders se gedagtes nie begin fokus op die regte dinge nie. Dit is alleen as die geskrifte en die uitnodiging om die verbeelding te rig op Christus – wat weer as die verheerlikte op die wolke gaan kom – dat daar iets kan gebeur in die hart van die gelowige, en wat hoop gee in ’n donker stryd.
  2. Die belangrikheid van reg luister en dus die regte keuses maak. Nie alle stemme kom van God af nie. Die verhaal van die Verheerliking is op sigself net betekenisvol indien die hoorders dit kan onderskei as die stem van God.

Frederik B O Nel

30/03/2016

2 Petrus 1:16-21

Aangepaste weergawe verskyn in Woord en Fees,

Preekstudies en Liturgiese Voorstelle

RCL Jaar A 2016-2017, 68-70

4       Bibliografie

Bolkenstein M H 1977 (De Prediking van Het Nieuwe Testament); Die Bybellenium 1999; Green M 1968 (Tyndale NT Commentary); Groenewald E P 1977; Heyneman, Dirk Preekstudie A 2007-2008; Holladay C R 1992 Preaching through the Christian Year; Kelly JND 1969 (Black’s NT Commentaries)