Mattheus 20:20-28

Begrafnisdiens: Virgil Anthony Robertson

05/01/1992-21/07/2017

 20Toe kom die vrou van Sebedeus met haar twee seuns by Jesus en kniel voor Hom om Hom ‘n guns te vra.

21“Wat kan Ek vir u doen?” vra Hy vir haar.

Sy sê vir Hom: “Belowe my dat hierdie twee seuns van my in u koninkryk langs U mag sit, een aan u regterhand en die ander een aan u linkerhand.”

22Toe antwoord Jesus: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die lydensbeker drink wat Ek gaan drink?”

“Ons kan,” antwoord hulle.

23Jesus sê toe vir hulle: “Ja, my beker sal julle drink. Maar om aan my regter- en my linkerhand te sit, daaroor besluit Ek nie; dit is vir dié vir wie my Vader dit gereed gemaak het.”

24Toe die tien ander dissipels dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers.

25Jesus roep hulle toe nader en sê: “Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. 26Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; 27en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. 28So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense.”

 

 

  • Oordenking:

Dit is Virgil wat ons vandag hier bymekaarbring. Baie van ons kan waarskynlik skuldgevoelens in ons hart herken omdat ons nie meer vir Virgil gedoen het en meer vir hom omgegee het nie. Wat ons moet erken, is dat Virgil een van die “vulnerable” mense is wat in ons midde geplaas is. Ons het sy weerloosheid nie altyd raakgesien en hom genoeg beskerm nie.

Dit is ook waar dat Virgil ons soms uitgeput het met sy oorweldigende behoefte aan aandag en sy aanhoudende gevra vir iets. Dit was nie altyd maklik om geduldig met hom te wees nie. Virgil het die wêreld elke dag aangepak sonder daardie lagie van onegtheid (veneer) waarmee die meeste van ons so dikwels mee rondloop. En hy het ons eintlik met ons eie onegtheid gekonfronteer. Maar vanoggend gaan dit nie oor ons skuldgevoelens nie, alhoewel ek dit graag wil erken, maar oor wat ons kon leer uit Virgil se teenwoordigheid in ons midde.

Ek besef dat die teks vir die begrafnis moontlik vreemd mag klink. In hierdie teks word ons deur die optrede van die dissipels en die woorde van Jesus bewus gemaak van ons eie stryd met ons valse ego’s wat maar gedurig net die oorhand wil kry.

Jakobus en Johannes se ma, soos wat ouers maar is, wil graag net die beste vir haar seuns hê. In die Markus-weergawe (Mark 10:35-45) het Jakobus en Johannes self na Jesus gegaan, en in die Lukas-weergawe (Luk 22:24-27) het die dissipels onder mekaar gestry oor wie die belangrikste is. Iewers het sy (en die dissipels) besef dat Jesus moontlik buitegewone mag het. Maar sy het Sy mag nie werklik verstaan nie.

Jesus se reaksie probeer begrip vir sy mag wek deur die konteks te verduidelik. In koninkryksterme het mag met “weerloosheid” te doen. Die beker verwys hier na lyding. Dit word dan verder uitgebrei. Anders as verwag word, maak Jesus hier ook nie aanspraak op al die mag nie, maar dui Hy aan dat sy eie mag beperk is. Hy is ondergeskik aan die Vader wat sal besluit wie aan die regterkant en linkerhand gaan sit.

Jesus gaan voort om die geleentheid te gebruik om te verduidelik hoe anders die koninkryk van God is. In die koninkryk van God gaan dit daaroor om ’n dienskneg te wees. In die koninkryk word alles op hulle kop gekeer – wie die minste is, is eintlik die meeste. Wie die minste aansien het, het eintlik die meeste aansien. Dit mag ons nooit in die kerk vergeet nie.

Soos Virgil, is daar nog baie ander weerloses in ons midde en rondom ons. Dit is nodig dat ons mekaar gedurig moet oproep tot dit wat die kern van die koninkryk van God is. Ons kan so maklik in die kerk meegesleur word deur prestasie, belangrikheid, status – net soos die dissipels in ons teksgedeelte. Dit is so maklik dat ons motors, as ons bevoorreg is om een of meer te hê, of ons huis, as ons bevoorreg is om een te hê, of ons klere, ons opvoedkundige kwalifikasies en al hierdie dinge, kan oorneem in ons lewens.

Koninkryksdenke wil ons weer terugbring na die kern van waaroor dit gaan. Om om te gee vir die weerloses. Soos die Belhar Belydenis van die VGK dit stel:

“Ons glo dat God Homself geopenbaar het as die Een wat geregtigheid en ware vrede onder mense wil bring; dat Hy in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy die wat bedruk is ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weesklnders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat vir Hom reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek; dat Hy sy volk wil leer om goed te doen en die reg te soek; dat die kerk daarom mense in enige vorm van lyding en nood moet bystaan, wat onder andere ook inhou dat die kerk sal getuig en sal stry teen enige vorm van ongeregtigheid sodat die reg aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom; …”

Virgil, en andere, se dood gee vir ons die geleentheid om oor die lewe te dink. Dit laat ons nadink oor ons eie gerigtheid in die lewe, dit waarop ons fokus, wat belangrik is vir ons. Die weerloses in ons midde daag ons uit om meer diensbaar te lewe, met ander waardes te lewe, om ’n verskil aan hierdie wêreld te maak.

Ons valse ego, dit is nou die buitenste lagie wat ons aan ander voorhou, wil altyd geprys word, verheerlik word, belangrik verklaar word. In ons ware ego vind ons wie ons werklik is, wat ons doel is in egtheid, in nederigheid, in aanpasbaarheid by ons omstandighede en in diensbaarheid.

Daar is seer, maar ook vertroosting, daarin om terug te dink aan Virgil en hoe lief hy daarvoor was om drukkies te gee en ontvang. Sy uitgesproke behoefte aan aanvaarding en erkenning aan menswees, wat eintlik maar ons almal se behoefte is, neem ons vandag verby sy dood. Dit kan iets in ons verander. Die dissipels moes leer om verby hulle magsbeheptheid te leef. Ek glo daar kan vir elkeen van ons vertroosting daarin lê as as ons kan sien dat Virgil vir ons iets kom leer het oor waarlik mens wees.

Ek dink ons kan ook ’n stuk vertroosting daarin vind indien ons dan kan voortgaan om as mense na mekaar uit te reik en aan te hou om vir mekaar drukkies te gee – en so ook aan mekaar erkenning te gee as mense wat dit werd is om drukkies en liefde te ontvang.

Amen

 

Dr Frederik B O Nel

Julie 2017

4     Bronne:

Theron, Flip 1996. Die somer kom saggies.

Theron, Flip 2006. Troos in ’n tyd van vertwyfeling. Oor die vreemde vertroosting van die Gees.

Vosloo, Wil & Van Rensburg, Fika 1999. Die Bybellenium Eenvolumekomentaar.