NADENKE OOR DOOD, OPSTANDING EN TREUR November 2017

Nadenke oor dood, opstanding en treur

November 2017

Death is the necessary transformation we all need

“35 Maar iemand kan vra: Hoe word die dooies opgewek? Watter soort liggaam sal hulle hê? 36  Dis ’n dom vraag! Wat jy saai, kom nie tot lewe tensy dit eers sterwe nie. 37  En wat jy saai, saai jy nie in die toekomstige gestalte daarvan nie, maar as ’n blote saadkorrel, of dit nou koring is of iets anders. 38  Maar God gee ’n gestalte daaraan, soos Hy bepaal het; aan elke saadsoort gee Hy ’n eie gestalte.” (1 Kor. 15:35-38 AFR1983)

“42  So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; 43  wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek.” 44 ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Aangesien daar ’n natuurlike liggaam is, is daar ook ’n geestelike liggaam. (1 Kor 15)

Nie alle mense glo aan ’n opstanding uit die dood nie. Daar is baie mense wat glo dat dood die einde beteken. Daar is ook diegene wat sê ons kan nie regtig weet wat gebeur ná die dood nie. Ons kan begrip daarvoor hê, want daar is nie werklik getuies wat ’n rukkie ná hulle sterwe terugkom en vir ons vertel hoe dit is om in die land van die dooies te wees nie. Die aantal naby-dood (near-death) verhale wat vertel word het ook hulle eie problematiek.

Dit verg dus werklik ’n geloofsprong om te glo dat daar iets meer as net die lewe is. Dit is heelwat makliker om daarin te glo dat ons lewe wel ’n begrensdheid het. Almal van ons het al met die dood te doen gehad. Trouens, die hele aardse skepping soos ons dit ken het ’n begrensdheid. Ons is bewus van plante en diere wat doodgaan en daar is aanduidings dat ook hierdie aarde tot ’n einde gaan kom.

Geloof in die opstanding van Jesus Christus gee vir gelowiges ’n sekere begrip t.o.v. die dood. Die Christelike hoop op opstanding uit die dood berus op die hoop op God self. Om in opstanding te glo moet daar geglo word dat God nuut maak en opnuut skep. Dit beteken dat daar op ’n bepaalde manier oor die begrensheid van die lewe gedink word. Waarop die gelowige voorbereid moet wees, is nie die dood nie, maar God wat wil nuut maak. Daarvoor moet daar geglo word dat God meer is as net hierdie skepping met sy inherente begrensdheid.

Hierdie “nuut maak” vind ons reeds in Jesus se eie opstanding. Na sy dood en opstanding is dit nie maar dieselfde Jesus van Nasaret wat aan mense verskyn nie. Dit is God self, volgens die uitroep van diegene aan wie Hy verskyn na sy opstanding: “My Here en my God” (Joh 20:28). Ons sal kan sê dat die opgestane Jesus van ’n ander orde is as die Jesus wat aan die kruis gesterf het (Conradie 2006:128).

Paulus gebruik die saad in 1 Kor. 15 as voorbeeld. Wat gesaai word en wat opkom kan nogal heelwat van mekaar verskil. Die opstandingsliggaam gaan nie dieselfde liggaam wees nie, maar dit gaan nog dieselfde “ek” wees. Dit is nie asof siele, of spoke, of selfs zombies, gaan opstaan nie.

Een manier om Paulus se woorde te verstaan, is om gebruik te maak van die woorde “kontinuïteit” en “diskontinuïteit”. Wat na die dood gebeur is nie maar net ’n voortsetting van wat voor die dood gebeur nie, maar dit is nog steeds ek wat opstaan. Dit is nie nou iemand anderste nie.

Dit is dus nie net maar ’n lyk wat lewend word nie. Dit is ’n veranderde “ek”. Die opstanding waarna Paulus verwys verskil van die gevalle waar Jesus vir Lasarus opwek (Joh. 11:38-44); of die weduwee van Nain se seun (Luk 7:11-17); of Jaïrus se dogtertjie (Mark. 5:21-43). Hulle het skynbaar onveranderd opgestaan, maar ook almal weer gesterf.

Hierdie opstanding wat Paulus aan ons voorhou gee nie vir ons antwoorde oor wat emosioneel gebeur met diegene wat geliefdes aan die dood afstaan nie. Die geloof in die opstanding neem nie die ervaring van verlies weg wanneer ons iemand aan die dood afstaan nie. Die pyn van verlies word nie uitgevee deur die geloof in die opstanding nie.

Ons moet daarteen waak om te dink dat mense wat in opstandingshoop glo nie ook die seer en verlies van die dood ervaar nie. Verlies het te doen met die verbintenis wat verbreek word. Dit is ’n emosionele ervaring wat tyd neem om gesond te word. Treurende mense het dikwels verskillende emosies op dieselfde tyd. Daar is tegelyk seer en pyn en ook moontlik ’n geloof in opstanding. Mense is soms baie dankbaar dat ’n geliefde verlos is van pyn, maar tegelyk baie hartseer oor die verlies aan die geliefde.

Dit is belangrik dat hartseer nie afgemaak word as vorm van ongeloof of ondankbaarheid nie. Oppervlakkige vertroosting is nie die antwoord nie. Woorde soos “dit is God se wil” of “nou is die persoon op ’n beter plek” is nie vertroosting nie. Behalwe dat dit nie heeltemal waar is nie, kan dit ervaar word as ’n ontkenning van die seer van die persoon.

Ons weet dat ons ’n sekere begrensdheid het. Geloof in opstanding behoort dit vir ons makliker te maak om oor hierdie begrensdheid te praat. Vertoosting begin eintlik al voor ons ander aan die dood afstaan. Die begin al wanneer ons met mekaar oor die dood praat. Of toelaat dat die dood (begrensdheid) deel van ons gedagtes word. Gesprekke oor die dood behoort in families en vriendekringe plaas te vind.

Vir wie in die opstanding kan glo, kan daar wel ’n sekere vertroosting daarin te vinde wees dat God deur die dood heen die skepping wil vernuwe. Dit hang ook saam met die geloof dat God saam met die mens die pad deur die dood heen stap.

Een van die vele vrese rondom die dood is die gedagte aan eensaamheid, omdat die dood skeiding bring tussen geliefdes. Vir sommige is daar die vrees dat die dood ’n uitnodiging tot eensaamheid kan wees. Gemeenskaplikheid is in die wese van die Drie-Eenheid, Vader, Seun en Heilige Gees. Wie dink vanuit ’n opstandingsgeloof, behoort ook hierdie gemeenskaplikheid te ervaar. Dood gaan nie oor die vernietiging van verhoudinge nie, maar die sluit van nuwes. Dié wat agterbly, kan dan ook vertroosting vind in familie en vriende wat in hartseer hulle hande vat en saam met hulle die pad stap. Dié wat sterwe, vind dat deur die dood heen alles weer nuut gemaak word en dat sterwe juis die nuwe gemeenskap bevestig wat op die nuwe hemel en die nuwe aarde gaan woon.

Dr Frederik B O Nel /21 November, 2017

References:

Conradie, Ernst 2006. Lewe anderkant die dood.

Klopper, Braam 2009. Wanneer woorde ontbreek

Van der Watt, Jan & Francois Tolmie 2014. Ontdek die Boodskap van die Nuwe Testament